Blinklywe By Die Dam – 18 Jan 24
Die goeie reënval die afgelope week het veroorsaak dat water die dam invloei en die toestand van die water by Meerhof verbeter het. Die toename van karp wat in die area beweeg is duidelik sigbaar. Jan en Franco Duvenage kon 36 karp land. Wit knoffel floats met Schalla’s dip van Supercast is aangewend om die vis te lok.
Ifafi Aquatic Club word gereeld deur spesiehengelaars besoek en goeie vangste van groot karp word aangemeld. ‘n Karp van 18.2kg is by dié oewer geweeg.
Jando Badenhorst het by Kommandonek gehengel en het 15 visse uitgetrek. Die swaarste was 6kg. Perdeby- en Tjop Tjop-geursels is gebruik.
Hengelaars kan hul vangste by Hartbeespoortdam met ons deel deur fotos te stuur na Jan 076 607 8956.
Hengelgroete
Jong hengelaars trek swartbaars uit
Dié twee jong hengelaars het elkeen ‘n lekker groot swartbaars die afgelope naweek uitgetrek. EW van Dyk (9) het ‘n 4.25kg bielie gevang en Dylan Snyman (9) ‘n 3kg swartbaars. Die vis is by die Swartbaarsdam by Kommandonek gevang. Om hier vis te vang, kontak 079 747 3406.