Hartbeespoort fietryer wen SA’s

07/03/2024Sport

Kris van Straaten

Hartbeespoort fietsryer, Kris van Straaten (45), is onlangs bekroon as die nuwe Suid-Afrikaanse kampioen in die SA Padfietskompetisie vir veterane mans.
“Dit was ‘n groot resies waar al die land se top Veterane mekaar gepak het. Dit het bestaan uit ‘n roete van 141km en het deur die bekende Suikerbosrand Natuurreservaat gelei. Ek kon die roete in 3 ure 42minute voltooi, ‘n hele agt minute voor die tweede persoon,” sê ‘n baie ingenome Kris.
Net voor die kampioenskappe het hy aan die Individual Time Trial (ITT) deelgeneem en het ‘n silwer medalje verower. “Dit was ‘n tydtoets waar die ryer alleen teen die klok ry. Die vinnigste ryer word dan as wenner gekroon. Dit staan ook bekend as die “race of truth” omdat daar geen taktiek betrokke is nie, slegs die ryer en sy eie krag. Dit was ‘n roete van 34km en ek kon dit voltooi met n gemiddelde spoed van 46.5km/h.”
Kris ry al van skooldae af kompeterend en het tot 2017 semi-professioneel deelgeneem. “Ek het vir twee jaar ‘n breek gevat en in 2019 weer kompeterend begin ry.” Hy oefen tussen 50 – 80 ure per maand.
“Ek wil graag almal om my bedank. Veral my afrigterspan Leon en Wade Prinsloo van Cycling Peak Performance in Hartbeespoort wat my in vorm gekry het vir die dag. En natuurlik my vrou, Cecile van Straaten, met wie ek die afgelope naweek getroud is!.”
Kris is ‘n lid van die Hartbeespoort Fietsryklub.