Help kinders om aan sport deel te neem

24/04/2025Schools

Solidariteit Helpende Hand se Brits-tak is besig om sporttoerusting in te samel om dit vir kinders, wat dit nie kan bekostig nie, moontlik te maak om aan sport deel te neem.
Die projek, Sportspore, samel toerusting vir netbal, sagtebal, hokkie, rugby, krieket en atletiek in om aan behoeftige kinders te skenk.
Die projek word deur Jacqueline du Plessis, ‘n lid van die organisasie, gedryf. “Ek neem al meer as 10 jaar aan sport deel en dit het my lewe ten beste verander. Ongelukkig het nie al die kinders die hulpbronne en motivering om soveel met sport te bereik nie. Ek hoop om hierdie kinders wat die geleentheid nodig het, te help. Met Sportspore wil ons alle kinders die geleentheid gee om met waardigheid sport te beoefen,” sê sy.
Skenk asseblief nuwe of tweedehandse toerusting vir die bogenoemde sportsoorte, insluitend skoene en handskoene. “Met goeie toerusting kan ons kinders met selfvertroue sport beoefen.”
Lewer sporttoerusting by Ons Winkel in Brits af of kontak Jacqueline by 079 977 3046 vir meer inligting.