Kers- & Kuiermark dié naweek

24/10/2024News

Die jaarlikse Kuier- en Kersmark van die NG Kerk Hartbeespoort, begin Vrydag, 25 Oktober, en duur tot Saterdag, 2 November, op die kerkperseel by Maraisstraat 30, Schoemansville.
Hierdie gewilde mark skep ’n rustige en unieke atmosfeer waar mense saamkom om te kuier. Dit is ‘n geleentheid wat nie misgeloop mag word nie. Kom snuffel tussen die 88 uitstallers se pragtige en unieke produkte en kom vul jou kerskous met iets besonders teen baie beskostigbare pryse.
Die Kuier- en Kersmark skop af met tannie Gerty Badenhorst se bekende, liplekker lamspitbraai Vrydag en sluit op 1 November 2024 af met ‘n lekker vleisbraai met bykosse. Vanaf Maandag 28 Oktober tot Donderdag 31 Oktober, sal heerlike, gesonde en geurige opskepetes vanaf 17:30 beskikbaar wees. Deur die loop van die mark is daar elke dag, heeldag heerlike wegneemetes om aan al jou behoeftes te voldoen. Dié met ‘n soettand kan gerus ‘n draai by die Boeresjiek-teetuin maak en smul aan die heerlike gebak. Die heerlike koffiereuk, wat van die Barista afkomstig is, sal jou twee keer laat dink voor jy verbyloop. ‘n Verskeidenheid koffie, tee en “slushies” sal beskikbaar wees.
Elke Sateragoggend word heerlike Franse ontbyte vanaf 8:00 tot 10:00 bedien. Die jongklomp word ook besig gehou met n verskeidenheid van kinderaktiwiteite en vir die sportiewes sal daar op 26 Oktober 2024 ’n pretdraf wees waar jy van jou oortollige energie ontslae kan raak. Sluit jou kuier af met ’n heerlike bakkie egte basaarpoeding soos nog nooit tevore bedien nie. As jy nog ’n paar sente oor het, kan jy elke Saterdag dit by die veiling, waar bruikbare items opgeveil word, gaan spandeer.
Die mark is weeksdae van vanaf 10:00 tot 19:00 en op Saterdae vanaf 8:00 tot 15:00 oop. Kredietkaarte, kontant en Zapper word aanvaar.
Veilige parkering en 24-uur gewapende reaksie is is vir besoekers beskikbaar. Volg Harties NG se Kuier-en-Kersmark op Facebook, terwyl enige navrae aan Angie van Tonder (oggendkantoorure) by 079 753 3357 gerig kan word.