Motoriste dankbaar vir verwydering van onwettige Sonop-spoedhobbels

25/01/2024News

Motoriste dankbaar vir verwydering van onwettige Sonop-spoedhobbels

Sakelui, boere en lede van die plaaslike gemeenskap het die VF Plus bedank vir sy ingryping om die Sonoppad by Brits te beveilig. Daar is ingegryp na verskeie klagtes en ongelukke sedert die spoedhobbels op 8 Desember op die pad by die Skierlik nedersetting en in Sonop opgerig is.
Die plaaslike gemeenskap het skynbaar in opdrag van ‘n plaaslike ANC-raadslid hobbels bestaande uit bakstene en beton regoor die pad opgerig. “Behalwe vir die feit dat sulke oprede op ‘n openbare pad totaal onwettig is, was die hobbels so hoog dat verskeie motoriste se voertuie beskadig is in hul pogings om verby die versperrings te kom. Weens die feit dat daar ook geen waarskuwings of padtekens opgerig is nie was twee voertuie op 8 en 9 Desember in ongelukke by die toneel betrokke. Verskeie motoriste het ook gemeld dat hulle deur lede van die Skierlik gemeenskap geteister is terwyl hulle óf moes stilhou, óf baie stadig by die gebied probeer verbykom het. Sekuriteitsmaatskappye het inwoners ook vermaan om die gebied te vermy weens die vrees dat verál vroue geteiken kan word in motorkapings,” het raadslid, Elsa Lourens gesê.
Die owerhede is in kennis gestel en die VF Plus het daarop aangedring dat dringend opgetree word om die pad te herstel volgens die voorgeskrewe spesifikasies. Die herstelwerk het vroeg verlede week begin en behoort vandeesweek afgehandel te wees.
“Ons sal voortgaan om onwettighede te bestry en die owerhede verantwoordbaar hou.”