Reuse luislang in Brits gekonfiskeer
‘n Reuse luislang is Vrydag deur ‘n bewaring- en dierereddingorganisasie van jeugdiges gekonfiskeer toe hulle die reptiel in die straat probeer verkoop het.

Jac-Louis Horn met die luislang in Brits.
Jac-Louis Horn, ‘n bekende slangvanger van Critter Chronicles, is deur Secra Sekuriteit in kennis gestel dat ‘n groep jeugdiges ‘n luislang naby Brits-hospitaal probeer verkoop.
“Ons het die groep jeugdiges met die luislang langs die straat aangetref en hulle meegedeel dat hulle die wet oortree. Hulle het glo die slang in bergkoppies by Oukasie gevang. Ons het die slang gekonfiskeer. Die groep het betaling geëis en na ek aan hulle verduidelik het dat dit onwettig is om met inheemse wildlewe handel te dryf, het ander gemeenskapslede betrokke geraak en die situasie was gespanne. Opstandiges het op ons bakkie geklim en ons het besluit om polisiestasie toe te ry, met die mense op die bakkie, om die situasie te ontlont,” het Horn gesê.
“Polisiebeamptes het aan hulle verduidelik dat handel met inheemse wildlewe ‘n misdaad is. Hierdie insident beklemtoon weereens die behoefte vir voortdurende omgewings- en wildlewe-opvoeding, veral in gemeenskappe waar toegang tot inligting beperk is, en armoede ‘n rol speel.”
Horn het na die insident met die skoolhoof van die skool, waar die jeugdiges skoolgaan, kontak gemaak en sal nou gratis opvoedkundige vertonings doen om die gemeenskap in te lig oor die noodsaaklikheid van omgewingsbewaring en dierewelsyn.
Die luislang is na die insident in ‘n veilige bewaringsgebied vrygelaat.