Rowers bind plastieksak oor vrou se kop

Rowers het Vrydagoggend ‘n plastieksak oor ‘n vrou se kop gebind terwyl hulle die huis op ‘n hoewe in Rietfontein by Hartbeespoort beroof het.
Helen Iileka (60) is kort na 05:00 deur twee rowers in hul huis oorval terwyl haar man, Jeff (66) besig was om vir hul dogter die hek oop te maak. “Ek maak elke oggend vir my dogter die motorhuisdeur en hek oop om te sorg dat sy veilig uit die hoewe kom. Ek het dit Vrydag, soos gewoonlik, gedoen en teruggestap huis toe. Ek het geen onraad vermoed tot ek in die kamer gekom het nie. My vrou het op die vloer gelê met ‘n plastieksak oor haar kop. Ek was vir ‘n oomblik uit die veld geslaan en nie geweet wat aangaan nie,” het Jeff gesê.
Hy het sy vrou opgehelp en moes toe hoor dat in die paar minute wat hy buite was, het twee jong mans by die voordeur ingegaan, sy vrou in die kamer gevind en haar oorval. “Ek het die vorige dag vir my honde wondsproei gekoop na hulle baklei het. Die rowers het dit van die tafel gevat en my vrou in die gesig daarmee gespuit, en haar toe gedwing om die kluis oop te sluit.” Hulle het ongeveer R200, vier selfone en ‘n vuurwapen uit die kluis gegryp en op vlug geslaan.
Jeff het die paniekknoppie gedruk en PWV Sekuriteit was enkele oomblikke later op die toneel. Die polisie is ontbied. “Die sekuriteitsoffisier het my selfoon gebel en ons kon dit in die bos agter die huis hoor lui. Die rowers was nog in die omgewing. My vrou is erg getraumatiseer. Sy het so geskrik dat sy nie kan sê of hulle gewapen was nie. Sy het net gedoen wat hulle gesê het. Hulle het die sak oor haar kop getrek en haar beveel om stil op die vloer te lê,” het hy gesê.
“Ek dink mens raak te gerus. Mens kan nie meer vir ‘n oomblik kanse vat nie.” Die egpaar se twee honde was agter die huis toegemaak.
Hartbeespoort polisie ondersoek ‘n huisroofsaak.








