Stropers, veediewe saai verwoesting op Brits-plase

01/02/2024Environment, News

Boere verloor daagliks wild in strikke.

Wild, beeste, troeteldiere… alles loop deur onder stropers op plase in die Brits-gebied.
Boere sit met hul hande in die hare. Daar word daagliks tot 100 strikke op ‘n keer van ‘n enkele plaas verwyder. Dit is veral wildboere wat deurloop, maar beeste beland ook in strikke en vee word oornag in die kraal geslag.
“Dit ruk nou heeltemal handuit. Dit is bitter moeilik om daagliks plase van honderde hektaar se grensdrade te patrolleer en die boere is moedeloos. Sake word aangemeld en dan gebeur daar niks, of die hof gooi die saak uit, al is die oortreder op heterdaad met die vleis of karkas betrap. So, die meeste boere wil nie eers meer die pad Brits toe ry om sake aan te meld nie,” sê Janus Fourie van die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep.
“Die polisie het al op ‘n keer die berede eenheid uitgestuur om te patrolleer, maar die volgende dag sny die stropers weer drade en stel strikke.”
Boonop word werkers wat strikke verwyder deur stropers met die dood gedreig. “Daar word vir hul briefies gelos wat sê hulle sal vermoor word as hulle strikke verwyder. Boere word ook geteiken. Dit is ‘n hulpelose situasie.”
Fourie het reeds talle saaknommers aan die polisie en ander instansies verskaf om hulp te kry met die situasie wat daagliks vererger.
Ons is raadop, dit is ‘n deurlopende stryd om die wild, vee en onsself te beskerm,” het ‘n boer gesê.