Terapiebeertjies stroom in

13/12/2024News

Die teddiebeertjies stroom in vir Solidariteit Helpende Hand Harties se Teddiebeer-projek wat gebruik word vir kinderberading.
Hartbeespoort-gemeenskapslede het al meer as 500 beertjies vir dié projek gebrei.
Dié ‘regulering’ teddiebeertjies word gebruik in terapie- en beradingsessies om kinders te leer om hulle emosies te reguleer en beheer.
“Elke beertjie kom saam met ‘n pakkie wat onder meer ‘n storieboekie, ‘Bennie Beer’, en reguleringsaktiwiteite vir kinders en ouers, insluit. Dit word gebruik om kinders te leer hoe om hulle emosies te reguleer wanneer die veg-of-vlug-instink inskop,” sê Nadia van der Merwe, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand Harties. “Net die afgelope twee weke het ons meer as 100 teddiebere ontvang. Elkeen is uniek, net soos elke kind. Die teddiebeertjies word aan terapeute, polisiestases,beradingsinstansies en vir ouerbemagtiging uitgedeel. Dit is ‘n terapeutiese hulpmiddel vir kinders en ouers.”
“Wanneer kinders angs of spanning in konflik- of traumatiese situasies beleef, reageer hulle deur te veg, vlug of vries. Dit is die brein se manier om hulle te beskerm teen die pynlike gevoelens wat hulle nie kan hanteer nie. Verskeie dinge kan hierdie reaksies ontlok. Wat die projek vir kinders en ouers wil leer is dat wanneer ons rustig is, kan ons brein weer planne maak. Ons kan met mamma of pappa praat oor wat ons ontstel het en mooi oor die situasie dink. Dan kan ons ook weer konsentreer, in die klas oplet en op ons leerwerk vir die eksamen of toetse konsentreer.””Ons wil die gemeenskap bedank, en veral vir 4 The Love of Yarn, Twee Riviere aftreeoord, Sandra Helm, Monica Otto, Ansie du Toit en Elsabe en Elmarie du Plessis vir hulle ywerige breiwerk om dié projek te ondersteun.”
As jy wil deelneem aan dié projek, kontak Nadia by 083 613 1238.