3 Mans van Brits in hof vir moord
Drie mans van Brits, Jaco Kemp (30), Louis Coetzee (28) en Gert van der Westhuizen (30) staan in die hooggeregshof in Pretoria tereg op moord na polisie in 2023 ‘n man se lyk agterop ‘n bakkie gekry het.

Jaco Kemp, Louis Coetzee en Gert van der Westhuizen.
Die liggaam van Dumisani Phakathi (45) is op 17 September 2023 ongeveer 02:00 tydens ‘n padblokkade deur polisie op die bakkie gevind. Die lyk was onder plastieksakke versteek. Volgens getuienis in die hof, was Kemp en Coetzee glo op pad om van die liggaam ontslae te raak. Hulle is op die toneel in hegtenis geneem. Van der Westhuizen het homself 10 dae later aan die polisie oorgegee. Hy is op R5 000 borgtog vrygelaat, maar die ander twee is borgtog geweier. Die verhoor het in Oktober 2024 begin, maar is uitgestel tot April vanjaar.
Die staat beweer Phakathi is ernstig deur die drie mans aangerand toe hy op die plaas kom water haal het.
Die hooggeregshof in Pretoria het die afgelope twee weke gehoor hoe die drie mans mekaar oor-en-weer beskuldig. Van der Westhuizen het Kemp en Coetzee van die moord beskuldig, terwyl Kemp Van der Westhuizen beskuldig het. Coetzee, op sy beurt, beskuldig Van der Westhuizen en Kemp van die aanranding waartydens Phakathi dood is. Al drie pleit onskuldig aan die moord.
Coetzee se vrou, Cornelia het getuig dat die drie mans op 16 September 2023 gebraai het toe Phakathi by die hek verby gestap het om water in die voor te skep. Sy het getuig dat sy gesien het hoe Van der Westhuizen hom by die hek aanrand. Volgens haar het Van der Westhuizen en Kemp vir Phakathi na ‘n stoorkamer geneem waar die aanranding voortgesit is. Volgens haar, het haar man, Coetzee, vleis gebraai tydens die aanranding.
Sy het aan die hof gesê dat Kemp later vir Van der Westhuizen weggevat het en toe terug gekeer het vir skoon klere. Sy klere was vol bloed. Kemp en Coetzee het hierna gery. Sy het getuig sy het haar man eers die volgende oggend weer gesien toe hy saam met die polisie opgedaag het.
‘n Sekuriteitsbeampte, Nick van der Walt, het getuig dat hy die betrokke dag deur Van der Westhuizen na die plaas ontbied is. Volgens Van der Walt het Van der Westhuizen aan hom gesê dat hulle iemand gevang het en daar daar ‘n bakleiery aan die gang was. Van der Walt het na die toneel gehaas. Met sy aankoms het hy glo vir Phakathi op die grond gesien sit met Kemp wat hom probeer vaspen. “Ek het vanaf my bakkie geskree hulle moet stop, maar hulle het nie.” Van der Walt het toe ‘n skoot afgetrek en die mans het Phakathi gelos. Van der Walt het getuig dat hy die mans aangesê het om vir Phakathi mediese hulp te kry voor hy weg is van die toneel.
Van der Westhuizen het verlede week in die hof vir Kemp en Coetzee daarvan beskuldig dat hulle voor die aanval dwelms gerook het. Van der Westhuizen se advokaat, Seja Rakobela, het ook na bewyse van die staat verwys ten tye van Kemp en Coetzee se inhegtenisname. Die polisie het glo na die ontdekking van Phakathi se liggaam op die bakkie, ook twee glas dwelmpype in die bakkie gevind.
Die saak duur voort.