Aarbeifees dié naweek

Die langverwagte Aarbei Musiekfees is weer hier, Brits- en Hartbeespoort-inwoners kan uitsien na ‘n naweek van vermaak en aarbeie teen spotgoedkooppryse. Die fees vind Vrydag en Saterdag, 29 en 30 Augustus, by Heartland Equestrian Park op die R511 tussen Hartbeespoort en Brits plaas.
Met meer as 100 stalletjies, deurlopende musiekvermaak deur bekende kunstenaars, biertuin, kindervermaak en tonne aarbeie, beloof dit om ‘n geleentheid te wees wat niemand moet misloop nie. Die hekke open Vrydag om 13:00 en Saterdag 09:00. Vrydag kan feesgangers uitsien na musiekvermaak deur Prime Circle, Juhan, Dirk van der Westhuizen, Appel en Droom Sindroom.
Saterdag vermaak Robbie Wessels, Chris Steyn, Juhan, Jan Rhap, Adam Tas en Christia Visser feesgangers.
Die groot lokmiddel – aarbeie! – sal teen weggeepryse verkoop word: ‘n Bakkie van
250g vir net R10, 1kg vir R25, 5kg vir R120, en tuisgemaakte aarbeikonfyt vir R25!
Die Aarbeifees word jaarliks aangebied om fondse in te samel vir donasies aan klein gemeenskapskole, Hospice, armoedeverligting, gemeenskapsprogramme om vroue en kinders te beveilig en
misdaadvoorkomingorganisasies soos die gemeenskapspolisiëringforums.
Ingang kos R100 vir volwassenes, R80 vir mense ouer as 65, laerskoolkinders R20 en voorskool gratis.
Kaartjies is by die hekke beskikbaar. Bring kampstoele saam en geniet ‘n heerlike dag by dié fees.


