Al singend na ‘n nuwe avontuur
Bekende Hartbeespoort-skoonheid, Savanha Crause (28), wat in 2023 die Mrs Globe SA-titel verower het, verruil nou haar kroon vir ‘n mikrofoon.
Haar eerste enkelsnit ‘Ek bly hoop’ is in Julie vrygestel, en die tweede een ‘Lekka Pappie’ sal Vrydag, 13 Desember op die lug wees.
Dié talentvolle vrou was van kleinsaf vir die verhoog bestem. “Ek het gesing en gedans vandat ek kan onthou. Ek het my ma se haarborsel gebruik om voor die spieël te sing. Ek onthou hoe my ma my in winkels stil gemaak het omdat ek al dansend en singend agter haar aangeloop het,” lag sy. “Ek het reeds op laerskool begin met dans- sing- en modelwerkaktiwiteite. Ek was selfs lid van ‘n musiekgroep.”
Na skool het sy onderwys studeer, ‘n tyd lank as lugwaardin gewerk terwyl sy deurentyd oudisies vir vertonings gedoen het. “Ek het klein rolletjies in ‘Getroud met rugby’ en ‘Binnelanders’ gehad. Ek het by twee agentskappe aangesluit en tans tree ek op as seremoniemeester en sing by privaat geleenthede.” Intussen het sy ook twee dagboeke vir mans en vroue gepubliseer.
Dit was altyd ‘n droom om haar eie musiek te skryf en dit op die lug te kry. “Ek het in 2023 die liedjie ‘Ek bly hoop’ geskryf en opgeneem. Dit is ‘n liedjie van hoop. Ek wou vir vroue, wat deur moeilike tye gaan, hoop gee. Terwyl ek besig was om die liedjie te skryf, het ek my man ontmoet en dit ast’ware vir hom geskryf.
Haar nuwe liedjie ‘Lekka Pappie’ het sy aan haar pa opgedra. “Dit is ‘n funky liedjie, bietjie uit my aard. Dit gaan oor ons land, ons kultuur en ons mense. Ek is kinderlik opgewonde oor dié vrystelling. Die hele tema was my pa se idee, en daarom is die titel ‘Lekka Pappie’.
Sy dink alreeds aan ‘n derde enkelsnit. “Volgende jaar wil ek nog meer optree en ek sien uit na wat wag.”