Bankbesonderhede op verkeersboete verander

25/04/2024News

Amir le Roux met die verkeersboete.

Sosiale media het die afgelope week gegons toe ‘n Hartbeespoort-inwoner in ‘n Facebook-plasing ‘n verkeersboetekaartjie gewys het waarop die verkeersbeampte die bankbesonderhede verander het.
Weens onlangse voorvalle waar inwoners deur sogenaamde verkeersbeamptes geteister is, of vir omkoopgeld gevra is, was die motoris, Amir le Roux, agterdogtig dat die verkeersbeampte moontlik besig was om bedrog te pleeg. “Sy optrede het my kop laat krap. Hy het nie vir omkoopgeld gevra nie, maar die amptelike bankbesonderhede op die boete uitgekrap en gesê ek moet die geld in ’n ander rekening inbetaal. Ek het gewonder of dit ‘n nuwe soort korrupsie is,” het Amir gesê.
Kormorant het die Noordwes verkeersdepartement vir kommentaar gevra en die Noordwes direkteur van verkeer, Paul Stone, het bevestig dat die veranderde bankrekening wel korrek is. “Die departement se bankrekening het die begin van April verander. Die nuwe boeke is in die drukproses en verkeersbeamptes is gevra om die bankbesonderhede op verkeersboetekaartjies te verander,” het hy gesê.
“Ek wil ook daarop wys dat motoriste wat verkeersboetes ontvang, die reg het om hof toe te gaan, of indien hulle wil betaal, dit by die hof of by die Noordwes-verkeersdepartement se kantore kan doen. Ons vra om verskoning vir die ongerief, en die nuwe verkeersboeteboeke sal binnekort beskikbaar wees.”