Belly-dans vir Kuierkidz

02/05/2024Events

Moenie Belly Dans Wêreld Dag by Kuierkidz misloop nie. Op die foto is die Oriental Fire-dansgroep wat verlede jaar die dag by Kuierkidz bygewoon het.

Wêreld Belly Dans Dag word vanjaar weer in Hartbeespoort met volle kleur en energie aangebied en almal is welkom om op 11 Mei hierdie feestelike dansgeleentheid by te woon.
Die dag se tema is: Oorsprong van Dans, en word vanaf 11:00 tot 17:00 by Skemerberg in Rietfontein aangebied.
Boonop dien die geleentheid as ‘n fondsinsameling vir die Kuierkidz Leersentrum vir Breingestremde Kinders. Die toegangsfooi van R75 is ‘n donasie aan dié sentrum.
Hartbeespoort-inwoner en organiseerder, Marinda Sauerman, sê die geleentheid is vanjaar groter en kleurvoller as verlede jaar. “Nasionale en internasionale dansers kom deelneem en daar gaan dromvertonings wees, asook Oosters-geïnspireerde danse van regoor die wêreld.”
Dansers van verskillende ouderdomme neem deel. Daar sal ook stalletjies wees met dansitems en eet- en drinkgoed sal te koop aangebied word. ‘n Kurkfooi sal gevra word vir drank en koelbokse wat saamgebring word.
Skemerberg is by die indraai van De Vette Mossel op die R511.
Navrae kan gerig word aan 082 374 9709.