Boek oor Elly Holm sien die lig

26/06/2025News

‘n Boek oor die merkwaardige Hartbeespoort-kunstenaar, Elly Holm, geskryf deur haar seun, Prof Dieter Holm, is eersdaags op die rakke beskikbaar.

Dieter Holm met die boek oor sy ma, Elly Holm.

Dié boek oor ‘n vrou, wat twee wêreldoorloë persoonlik oorleef het, die kunslandskap in Suid-Afrika beïnvloed het, en wie se lewensverhaal soos ‘n historiese roman lees, het haar seun 13 jaar geneem om te skryf.
“Sy was ‘n merkwaardige vrou (met ‘n merkwaardige gesin) en die boek handel oor haar en haar gesin se lewe, met Hartbeespoort as ‘n sterk tema deur die boek,” sê Dieter.
Elly Holm se lewensverhaal begin in Berlyn en na talle grootpaaie en afdraaipaaie, eindig dit by die Hartbeespoortdam, beskryf Dieter dit in sy opsomming van die boek. Sy oorleef twee wêreldoorloë in Duitsland: die Eerste Wêreldoorlog as die dogter van ‘n Duitse offisier, en die Tweede Wêreldoorlog as vrou, kunstenaar en moeder.
Sy ontmoet die Suid-Afrikaner, Eric Holm, by die ‘n kunsakademie in Duitland en hy oorreed haar om na Suid-Afrika te kom waar hulle trou en hul twee oudste kinders, Dieter en Albrecht gebore is. Na ‘n tyd is hulle terug Duitsland toe en die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Na die Tweede Wêreldoorlog word Erik in Suid-Afrika aan hoogverraad skuldig bevind weens sy werk by ‘n Duitse radiostasie wat pro-Duitse programme in Afrikaans uitgesaai het. Elly kom terug na Suid-Afrika om in die verhoor te getuig terwyl haar (nou) ses kinders by hul ouma Elly agterbly. Die gesin is uiteindelik almal twee jaar later verenig en hulle vestig hulle in Hartbeespoort.
“Dit is hier waar haar lewe verander het en waar sy begin blom het. Die voorblad van die boek beeld haar verhaal uit – van lig tot donker, van Berlyn tot Hartbeespoort.” En een van haar kunsskeppings pryk prominent op die voorblad, arms uitgesprei… vreugdevol, oor die Hartbeespoort-landskap.
“Die verhaal is een van swaarkry, deursettingsvermoë en ‘n reis na die lig. Dit is deurtrek met humor. Dit was ‘n eienskap van Elly wat sy aan haar kinders oorgedra het. Dat jy in die swaarkry kan lag en die snaakse kant sien. Sy het ons lewe geslyp met ons huiskultuur van taal, kuns, musiek en die beginsel dat ons met ons hande moet kan werk. En sy het ons geleer dat jy iets uit die alledaagse lewe kan vat en iets spesiaals daarvan kan maak.”
Die idee vir die boek het in 2012 ontstaan na die gesin, op uitnodiging van die Universiteit van Pretoria, ‘n uitstalling van Elly se kunswerke gehou het. “Ons het besluit ons moet ‘n boek oor haar lewe skryf. Ons sou dit saamdoen, maar die uiteinde was dat ek dit sou skryf,” lag hy.
“Ek het dit baie, baie geniet om die boek te skryf. “Natuurlik is dit hartsake. Ek is die oudste kind, ek het dit deurleef.”
Haar aangrypende verhaal is geskryf uit Elly se briewe en herinneringe.
Die boek, wat beloof om die aandag vas te vang, is eersdaags op die rakke, maar kan reeds by Dieter bestel word by 083 287 3220.