Brits boere wen Moer ‘n Boer
Ernst Meintjies
Lambertus Scheepers
Steph Meintjies
Nou weet almal wat ons weet… Brits se boere kan moer!
Drie boere van Brits, Ernst en Steph Meintjies en Lambertus Scheepers het as die oorwinnaars uitgetree in die unieke en omstrede Moer ‘n Boer-gemengde gevegskuns-wedstryd verlede naweek.
Die drie het hul staal gewys en is nou onder die ses finaliste waarvoor die publiek moet stem om die kampioen aan te wys. Die broers Steph (27) en Ernst (30) Meintjies van Meintjieskroon Boerdery boer met groente en beeste, en Lambertus Scheepers (30) van Modelpak, boer met skape en groente.
Televisiekykers het die afgelope weke 12 boere van regoor die land die afgelope weke op die VIA-kanaal leer ken en die boere het mekaar uiteindelik Saterdagaand in die Heartfelt Arena in Pretoria getakel.
“Dit was ‘n ongelooflike sukses. Meer as 4 000 mense was by die geleentheid. Ek glo ons het genoeg ondersteuning vir ‘n tweede Moer ‘n Boer-reeks,” het Hartbeespoort-sakeman, Jan van den Berg, wie se konsep die reeks was, gesê. “Dit het gemengde vegkuns in Suid-Afrika ‘n groot hupstoot gegee.”
Gaan loer gerus op Moer ‘n Boer se sosiale media en die Moer ‘n Boer YouTube-kanaal en stem vir ons Brits-boere.