Die gelukkige einde van ‘n weggooihondjie
Die klein dogtertjie en die klein straatbrakkie sit styf teen mekaar en deel soentjies en drukkies – die toonbeeld van liefde. Dié toneeltjie is die gelukkige einde van twee hartseer verhaaltjies.
Die 19-maande-oue Almé Reyneke van Schoemansville in Hartbeespoort het die afgelope weke snags huilend wakker geword, op soek na haar geliefde hondemaat, Teddie, wat onlangs skielik dood is. Die klein ‘opregte’ straathondjie wat styf teen haar sit, was op haar beurt in die straat in ‘n informele nedersetting weggegooi en het gelukkig by Hartbeespoort Animal Welfare Society (HAWS) beland.
“Sedert Teddie sowat twee weke gelede dood is, roep Almé heeltyd na hom. Sy word snags huilend wakker en vra vir Teddie. Vrydagoggend was dit vir my net een te veel. Ek het vir my man gesê ek kan nie meer haar hartseer oor haar hond hanteer nie. Ek het haar by die kleuterskool afgelaai en reguit HAWS toe gery,” vertel Almé se ma, Nadine.
“Hulle het gevra of ek ‘n spesifieke soort hond soek en ek het gesê ek soek ‘n opregte hond, een wat se ma en pa ‘n hond is! En toe sien ek die klein maer hondjie wat in ‘n plakkerskamp opgetel is.”
Sy is met die hondjie huis toe en toe klein Almé by die huis kom, was dit liefde met die eerste oogopslag. “Sy het haar armpies om die hondjie geslaan en “Anna” gesê! Ek wou nog aan ‘n mooi naam dink, maar dit is nou ‘Anna’.” Sedertdien is die twee onafskeidbaar en dit is iets spesiaals om te sien hoe die eens verwaardloosde hondjie en die hartseer dogtertjie mekaar troos.
“Sy vra nog af en toe na “Teddie”, maar sy huil nie meer nie. Sy het nou vir Anna en dit is net absolute liefde. Dit was die beste ding wat ek kon doen!”
Sedert Nadine ‘n video van Almé en Anna met HAWS gedeel het, het die video soos ‘n veldbrand versprei. “Sulke stories is wat ons werk tussen al die hartseer deur die moeite werd maak. Dit bring trane in die oë van selfs die gehardste dierewelsynwerker,” sê Ilka van der Merwe van HAWS.