Geliefde Brits-onderwyser in ongeluk dood

09/04/2024News

Morné Badenhorst (26)

‘n Geliefde jong onderwyser van Hoërskool Brits is Saterdag tragies in ‘n kop-aan-kop-botsing by Brits dood.
Morné Badenhorst (26) is ongeveer 08:00 op die R511 sowat 3km buite Brits vermoedelik op slag dood in die botsing. Hy was alleen in die voertuig. “Met ons aankoms op die toneel het nooddienswerkers die twee voertuie langs die pad gevind. Die vier insittendes van die ander motor moes met hidroliese toerusting uit die voertuig gesny word,” het Jerry Bouwer van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) gesê. Hulle is na ‘n hospitaal in Brits vervoer.
Badenhorst was sedert 2020 ‘n geografie-onderwyser by die skool. Hy was nou betrokke by die skool se sport en afrigter van die eerste rugbyspan. Hy was ook ‘n provinsiale krieketkeurder.
Hoërskool Brits het dié week gesê hy was geliefd onder leerlinge en personeel en sy dood laat ‘n groot leemte in die skool. “Ons gaan jou ongelooflik mis,” het die skool in ‘n huldeblyk op hul Facebook-blad geskryf.
Huldeblyke het die afgelope week op Facebook ingestroom. “Die lewe is vanoggend weer vir my erg onregverdig!! Ons het dan nog laas Saterdag ge-Vleisfees en gesing? Nog Sondag Spur breakfast met bloukaas geëet! Ons moes nog gaan duiwe skiet het en potjiekos agter ‘n golf kar maak? Ons het nog gegrap en gesê dit lyk soos baie mense se laaste Vleisfees, min wetend dit was joune. Jy was net ALTYD reg om almal te maak lag en WHAT A GENTLEMAN!!! Ons gaan jou mis. RIV Morras,” het ‘n vriendin, Chris-Mari Dames, geskryf.
Reëlings vir sy gedenkdiens sal later die week bekend gemaak word.