Geliefde Hartbeespoort-musikant oorlede

Die geliefde Hartbeespoort-musikant, Jaco ‘Bees’ van Wyk is Sondag na ‘n lang stryd teen kanker oorlede.

Jaco Bees van Wyk

Jaco, wie se bekende treffers, , Hartbeespoort, Eendag, Warrior en vele ander, gereeld op radio en televisie gehoor word, was die afgelope weke in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal in Pretoria.
“Hy het 13 jaar teen kanker geveg wat na verskeie organe in sy liggaam versprei het en het die afgelope tyd baie swaar gekry,” het sy pa, Hennie, gesê.
Jaco is in Hartbeespoort gebore en het hier skool gegaan. “Ek het sy eerste kitaar vir hom op sesjarige ouderdom gegee. Ons is ‘n musiek-famille en van laerskool af, was musiek sy passie. Na skool het hy ‘n loopbaan as musikant begin en het landswyd getoer en verskeie treffers gehad. Hartbeespoort was egter sy plek. Die musiekvideo vir Eendag is dan ook op die ou Meerhof-treinbrug verfilm.”
Jaco en sy vrou en hul vyfjarige tweeling het die afgelope vyf jaar in Ellisras gewoon waar die gesin ‘n slaghuis bedryf het.
Hy laat sy pa, Hennie, sy vrou, Anelda, sy tweeling, Danica en Hanco, en sy drie susters, Elisna, Carina en Nerina na. Sy begrafnisdiens vind Saterdag in Ellisras plaas.
“Heelwat mense van Hartbeespoort het aangedui dat hulle die begrafnis wil bywoon. Soveel mense was lief vir hom. Hy gaan gemis word.”
Huldeblyke het die afgelope week op Jaco se Facebook-blad ingestroom.
“Rus Sag Jaco Bees van Wyk – Jy los diep spore en jy sal altyd onthou word vir die “Warrior” wat jy was.”
“Ai Jaco Bees Van Wyk ons het nie woorde nie. Rus sag en mag jou familie vrede en vertroosting vind. Jy is ‘n legend en sal altyd onthou word.”
“Ons harte is seer, ons woorde is min. Jaco Bees Van Wyk jy sal voortleef in goeie tye met mooi oomblikke. Jou musiek sal voortleef met die woorde wat raak waar dit moet.”
Die familie versoek almal wat beplan om die begrafnis by te woon, om met Carina by 072 122 7884 te bevestig.