Hartbeespoort Rugbyklub skop seisoen met puik vertonings af
Die Hartbeespoort Rugbyklub het die afgelope naweek hul voorseisoen-wedstryde suksesvol afgeskop en sommer vroeg reeds ’n sterk boodskap uitgestuur en Bronkhorstspruit Rugbyklub vêr geklop.

Kaptein van Hartbeespoort rugbyspan, Damion Fuller, in aksie tydens die wedstryd.
Dit beloof om ’n opwindende en mededingende rugbyseisoen vir Hartbeespoort te wees. Die klub het die veld met groot geesdrif en vasberadenheid betree en beide die eerste en tweede span het uitstekende spel gelewer.
Die tweede span het die wedstryd met 20–10 gewen en die eerste span het op hul beurt ’n kragtoer van ’n wedstryd gespeel en Bronkhorstspruit met 59–32 gewen.
Die span het goeie struktuur en samewerking op die veld getoon, met sterk verdediging en doeltreffende gebruik van geleenthede wat op hul pad gekom het. Dit is duidelik dat die span al vroeg in die seisoen mekaar begin vind en ’n stewige fondament lê vir wat voorlê. Die spelers het hul vaardighede en fiksheid ten toon gestel en met vinnige, doeltreffende aanvalle en goeie ondersteuning.
Met sulke belowende vertonings aan die begin van die seisoen, is daar groot opgewondenheid by die klub en ondersteuners. Alles dui daarop dat die komende Presidentsliga-seisoen vol aksie, harde kompetisie en hope trots vir die Hartbeespoort Rugbyklub gaan wees.
Die klub sien met groot verwagting uit na die res van die seisoen en nooi alle rugbyliefhebbers uit om die spanne deur die jaar te ondersteun.