Hartbeespoort se “Klokman” beseer in tref-en-trap

18/01/2024News

Hartbeespoort se "Klokman" beseer in tref-en-trap

Hartbeespoort se bekende ‘Klokman’ is Woensdag ernstig in ‘n tref-en-trap-ongeluk op die R511 beseer.
Martin Bissett, wat daagliks met ‘n klok in Hartbeespoort se strate die Christelike boodskap verkondig is ongeveer 06:00 by die Sasol-vulstasie naby die Laerskool Broederstroom raakgery. Die voertuig, ‘n silwer Toyota Avanza, het weggejaag.
“My pa se arm is sleg gebreek en hy het ook ernstige handbeserings opgedoen. Dokters sal Donderdagoggend sy arm geopereer om die skade te probeer herstel,” het sy dogter, Madeleine Coetzee, gesê.
“Volgens my pa, het hy nie eers die voertuig sien kom nie. Die kar het teen ‘n hoë snelheid gery en net weggejaag. Ek het later op die toneel die voertuig se spieël opgetel.
Paramedici het Bissett op die toneel behandel waarna hy na die hospitaal vervoer is. “Ons het intussen die voertuig se registrasienommer gekry danksy sekuriteitskameras in die omgewing. Ons het die Hartbeespoort Gemeenskapspolisiëring vir hulp genader met die saak,” het sy gesê.
Bissett is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal.