Harties Fotografieklub vier 10 jaar van puik fotografie

07/02/2025News

Harties Fotografieklub het onlangs hulle 10de bestaansjaar in die Hartbeespoort en Brits omgewing gevier.
Die fotografieklub het in September 2014 hulle eerste foto-beoordeling gehad, en sedertdien het lede elke maand entoesiasties foto’s ingestuur vir beoordeling en kommentaar. Die foto’s word deur ‘n onafhanklike beoordelaar en volgens standaardreëls wat deur die PSSA (Photographic Society of South Africa) neergelê word beoordeel.
“Die doel van die fotografieklub is om ons lede te help om hulle fotografievaardighede te verbeter en ‘n gemeenskap van entoesiastiese fotograwe te bevorder wat hul passie vir fotografie met mekaar deel. Ons leer gedurig nuwe tegnieke, kry konstruktiewe terugvoer oor ons foto’s en kry blootstelling en erkenning vir ons werk van ‘n wyer gehoor. Fotograwe word in die klub bevorder volgens stergradering namate hulle foto’s beoordeel word,” sê voorsitter, Ben Koekemoer.
“Ons klub is by die PSSA ingelyf wat gereeld nasionale fotokompetisies aanbied. Fotobeoordelings vind elke eerste Dinsdag van die maand om 19:00 plaas. Dit word virtueel op Microsoft Teams aangebied en enige persoon is welkom om in te skakel om die fotoaanbiedings en beoordeling by te woon.”
Belangstellendes kan die fotografieklub kontak deur ‘n epos te stuur na hfsgroep@gmail.com. Kontak Ben by 083 268 9379.