Hartklopfees skop af

28/08/2025News

Die jaarlikse Kuier- en Kersmark van die NG Kerk Hartbeespoort, het ’n nuwe baadjie aangetrek en word nou die Hartklopfees van Harties genoem. Dit begin op 29 Augustus en duur tot 6 September 2025 by Maraisstraat 30, Schoemansville. Hierdie fees skep ’n rustige en unieke atmosfeer waar mense saamkom om te kuier.
Dit is ‘n geleentheid wat nie misgeloop mag word nie. Kom snuffel tussen die 80 uitstallers se pragtige en unieke produkte en kom koop nou al vir jou familie en vriende iets besonders vir hul kerskouse.
Die Hartklopfees skop af met tannie Gerty Badenhorst se bekende, liplekker lamspitbraai op 29 Augustus 2025 en sluit op 6 September 2025 af met afval- en hoenderpotjie. Vanaf Maandag 1 September tot Donderdag 4 September 2025, sal heerlike, gesonde en geurige opskepetes vanaf 17:30 tot 19:00 beskikbaar wees. Deur die loop van die mark is daar elke dag, heeldag heerlike wegneemetes. Dié met ‘n soettand kan gerus ‘n draai by die teetuin maak en smul aan die heerlike gebak. Elke Sateragoggend word ‘n heerlike Franse ontbyte vanaf 8:00 tot 10:00 bedien. ’n 5km pretloop op 6 September 2025 is net die regte ding om die wintervetjies af te skud, terwyl die jongklomp besig gehou word met ’n verskeidenheid van kinderaktiwiteite. ‘n Veiling vind op 5 September plaas, waar bruikbare items opgeveil.
Die mark is weeksdae van vanaf 10:00 tot 19:00 en op Saterdae vanaf 8:00 tot 15:00 oop. Kredietkaarte, kontant en Zapper word aanvaar.
Veilige parkering met toegang tot 24-uur gewapende reaksie is beskikbaar. Volg Harties NG Kerk se Hartklopfees op Facebook of vir navrae, kontak Pieter Brynard (oggendkantoorure) by 012 2531991.