Hondjie gevind wat van grusame ongelukstoneel vlug

01/08/2024News

 

Twee hondjies het Dinsdag ‘n grusame agt-voertuig-ongeluk op Silkaatsnek oorleef. Een van die hondjies, wat van die toneel gevlug het, is later die aand veilig in die bosse naby die ongelukstoneel gevind.
Die hondjies, Boesman en Trompie, was saam met hul eienaar in een van die voertuie wat in die ongeluk betrokke was. Volgens Yolandi Venter, wat eerste op die toneel was en die ongeluk in haar truspieëltjie gesien gebeur het, het sy en haar vrou uitgespring om hulp te ontbied en mense op die toneel by te staan tot nooddienste opdaag. “Ons het ‘n vrou uit ‘n voertuig hoor roep vir hulp. Ons het gehelp om haar uit die voertuig te kry. Hulle het twee hondjies in die voertuig gehad. Trompie het tydens die ongeluk by die venster uitgespring en die bosse langs die pad ingehardloop. Boesman het in die kar gelê en bewe. Paramedici het hul eienaar uit die kar gehaal en ons het Boesman uitgehaal.”
Nog ‘n motoris, Janine Bam. wat by die ongelukstoneel moes stop, het gevra of sy kan help en aangebied om die beseerde hondjie veearts toe te neem. “Ek was toevallig op pad veearts toe toe die ongeluk gebeur het. Ek het vir Boesman in my kar gelaai en ons is na Motsumi Dierekliniek. Hy het snye opgedoen en was in skok. Hulle het hom so mooi behandel.”
Intussen het Yolandi die beseerde honde-eienaar se familie in Krugersdorp gekontak en hulle ook ingelig oor die verlore hondjie. “Op pad na die hospitaal, het hulle by die ongelukstoneel gestop en Trompie, ‘n entjie van die toneel in die bosse opgespoor. Hy het gelukkig in die omgewing van die ongeluk gebly en is nie beseer nie. Trompie is saam met hulle na hul dogter in die hospitaal.”
Motsumi Dierekliniek het Yolandi, wat saam met die familie by die hospitaal was, op hoogte gehou van Boesman se toestand. “Hy is nie ernstig beseer nie en was grotendeels in skok. Ek wil net die dierekliniek bedank dat hulle so mooi na hom gekyk het,” het sy gesê.

Sien ook: 3 dead, six injured in horrific crash