Huisarres en gemeenskapsdiens vir tiener wat Brits-man se dood veroorsaak

10/10/2024News

Die tiener wat in 2021 die dood van ‘n Brits-inwoner, Patrick Jewell (65), se dood in ‘n ongeluk veroorsaak het, is slegs tot drie jaar huisarres en gemeenskapsdiens gevonnis.

Jacky en Patrick Jewell kort voor sy dood.

Kgaugelo Masenya (19) was 16 toe hy op 21 September 2021 ‘n ongeluk in Brits veroorsaak het wat Jewell se lewe geëis het. Jewell is drie weke ná die ongeluk oorlede. Die tienerseun se pa is ’n kaptein in die SAPD se beskermingseenheid.
Sy dogter, Jacky, voel dat die strafregstelsel hulle in die steek gelaat het en sy is geskok en teleurgesteld oor die sagte vonnis wat die tiener opgelê is wat haar pa se dood veroorsaak het. Die Brits-landdroshof het verlede week vir Masenya tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat hy onder huisarres sal deurbring. Masenya moet ook 16 ure gemeenskapsdiens per maand by die Polokwane Provinsiale Hospitaal doen.
“Die saak sou egter nie so ver gevorder het as dit nie was vir die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat Jewell se dogter, Jacky, gehelp het nie. Die privaatvervolgingseenheid het gesorg dat die saak behoorlik ondersoek word en ter rolle geplaas word. Daar word vermoed dat die saak nie behoorlik ondersoek is nie weens polisie-inmenging om een van hulle kollegas te beskerm,” het Barry Bateman, AfriForum-woordvoer gesê.
Masenya (19) het in Mei vanjaar skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.
“Landdros Elna Moolman het gesê hoewel sy die misdaad as baie ernstig beskou, is sy ook bedag op die feit dat Masenya ten tyde van die voorval 16-jaar oud was. Moolman het aangevoer dat ’n man sy lewe verloor het weens Masenya se optrede en dat sy nie kan ignoreer waardeur Jewell se familie is nie. Sy het haar hoop uitgespreek dat die familie berusting sal vind in die vonnis wat opgelê is.”
Jacky meen egter dat die drie-jaar vonnis nie pas by die oortreding nie. “Uiteindelik, ná drie jaar, sal sy vonnis verby wees. Ek voel nie dit is genoeg nie, maar volgens die regstelsel is dit wat hy verdien. Ek wil vir AfriForum bedank dat hulle elke stap van die proses saam met my was en ek hoop hulle kan in nog baie ander sake help en die sake wen om mense te help. Hoewel ek voel dat die strafregstelsel ons in die steek gelaat het weet ek dat die saak bloot tot niet sou gaan as dit nie was vir AfriForum se ingryping nie.”
Bateman sê dat die gesloer om sake op te los net daartoe lei dat slagoffers en hul geliefdes se trauma uitgerek word.