Jan Moer ‘n Boer

Jan van den Berg (middel) saam met twee van die boere, Zac Steyn en David Louw , wat gaan appels swaai op Moer ‘n Boer.
Hoe beland ‘n finansiële adviseur van Hartbeespoort in die bokskryt op televisie? Hy moer ‘n boer!
Bekende Hartbeespoort-inwoner en sakeman, Jan van den Berg, het verlede week sy eerste verskyning saam met 12 boere op VIA (DStv-kanaal 147) gemaak in die program Moer ‘n Boer, waarvan hy ‘n vervaardiger is.
Moer ‘n Boer is ‘n kompetisie in gemengde gevegskuns (MMA) waar die 12 boere teen mekaar gaan appels swaai om die boer met die taaiste hou te bekroon. Suid-Afrikaanse boere is bekend as taai manne, en dié kompetisie gaan presies wys hoe taai!
Dié unieke program is Jan se blink idee. Die bokskryt is vir hom nie nuut nie, hy het twee jaar gelede ‘n maatskappy, Versus Promosies, op die been gebring wat gemengde gevegskuns bevorder.
“Ek het van jongsaf geboks en gestoei en so ses jaar gelede met gemengde gevegskuns begin. Ek is nou te oud om te kompeteer, en doen dit net vir die genot daarvan. So ruk terug het ek gewonder hoe ons meer Afrikaners in die sport betrokke kan kry en toe kom die idee van Moer ‘n Boer,” vertel hy. Jan is ‘n aktiewe kampvegter vir Afrikaans.
Jan, wat met heelwat boere in sy beroep te doen kry, het die idee aan die boere voorgelê en was verbaas oor die onmiddellike positiewe reaksie. “Hulle was mal oor die idee en soos dit versprei het, het die belangstelling van die Afrikaner-gemeenskap ingestroom. My vennoot, die UFC-vegter, Cameron Saaiman, het aanvanklik gedink dit gaan glad nie werk nie, maar toe is die belangstelling so groot. Ons het besluit om ‘n partytjie te reël om die kompetisie bekend te stel en verskeie tydskrifte en verteenwoordigers van televisieprogramme te nooi. En toe is die koeël deur die kerk. VIA het ons genader om ‘n reeks te vervaardig en die res is geskiedenis.”
Hy sê dit was glad nie moeilik om boere te kry om aan die kompetisie deel te neem nie. “Ons boere is sterk manne wat vir niks terugstaan nie.” Saaiman is dan nou ook die aanbieder van die reeks.
Die boere wat deelneem het geen gevegsagtergrond nie en hulle is die afgelope ses maande deur ‘n afrigter so bietjie touwys gemaak. Die 12 boere sal mekaar in ses gevegte takel, asook in drie amateur-titelgevegte en vier professionele gevegte met name soos Niel ‘Steel’ du Plessis en Stefan ‘Mr Kick’ Pretorius.
Boonop is drie van die boere wat in die kryt gaan skop en appels swaai van Brits. Hulle is die broers Steph (27) en Ernst (30) Meintjies van Meintjieskroon Boerdery wat met groente en beeste boer, en Lambertus Scheepers (30) van Modelpak, wat met skape en groente boer.
Die eerste uitsending verlede Donderdag het meer kykers as Boer soek ‘n Vrou gehad. “Dit lyk of die publiek mal is oor die program,” sê Jan.
En hulle is reeds genader vir ‘n tweede seisoen. “Dit is ‘n heerlike projek en ek geniet dit vreeslik. Daar sal beslis nog wees.”
Moer ‘n Boer word elke Donderdagaand om 20:00 uitgesaai en heruitsendings Saterdae om 21:00.