Kersliggiefees by Meerhofskool
Vanjaar spog Hartbeespoort ook met ‘n perseel waar families Kersliggies kan gaan geniet. Meerhofskool bied vanaf Donderdag, 28 November, tot Vrydag, 6 Desember, ‘n fees van liggies aan inwoners om die Kersgety te verwelkom.
Die “Skyn Jou Liggie”-fees open Donderdag on 17:30. Toegang is nie-bederfbare voedselitems. Die liggieskouspel op Meerhofskool-perseel sal kort voor donker aangeskakel word. Kom geniet die liggies, Sang items deur die leerders, ‘n verskeidenheid kosstalletjies, speletjies ens.
“Die idee het ontstaan tydens Meerhofskool se beplanning vir ons jaarlikse ‘Carols by Candle light’. Daar is geen plek in Hartbeespoort waar mense na Kersliggies kan gaan kyk nie en ons het besluit om dit hier te doen,” het Meerhofskool se hoof, Kobus van der Merwe, gesê.
Ouers is versoek om liggies te skenk en leerders het self ingespring om Kersliggies en -versierings te maak. “Elke afdeling het ‘n deel van die skoolperseel gekry om volgens ‘n tema te versier. Die leerders het met uiters kreatiewe idees vorendag gekom. Dit gaan ‘n skouspel wees.”
Die skool beoog om die Kersliggiefees voortaan jaarliks aan te bied. “Vanjaar is die eerste een en ons beplan om vorentoe net groter te gaan. Ons nooi inwoners uit om ons Donderdag en die daaropvolgende week te ondersteun en die liggies te kom besigtig.”
Dit beloof om ‘n fees vir veral kinderoë te wees. Onthou net jou nie-bederfbare voedselitem as toegangsfooi. Die voedseldonasies is deel van die skool se Handevatprojek om gesinne in nood te help.