Kilometers se treinspore al by Brits gesteel
Diewe is die afgelope maande besig om op groot skaal treinspore langs Brits se hoofroetes te steel.
Die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) en polisie in die Brits-gebied het die afgelope maand ‘n aantal verdagtes in hegtenis geneem.
“Baie kilometers se treinspore is nou al gesteel. Groot groepe werk saam en sny snags onder ‘n seil of kombers sodat die vuurvonke nie sigbaar is nie. Al die spore in die stiller gebiede weg van hoofpaaie af is omtrent al weg,” het Janus Fourie van die KGBG gesê.
In ‘n onlangse geval het ‘n plaasboer verlede week ‘n groep verdagtes gesien toe hy in die middernagtelike ure op die plaas gery het. KGBG-patrollielede het met behulp van ‘n hommeltuig die verdagtes gevolg en drie is in hegtenis geneem.
Fourie sê Transnet word op hoogte gehou van die diefstal.
Transnet het onlangs die treinspore vanaf Pretoria deur Hartbeespoort na Magaliesburg verwyder weens grootskaalse diefstal.