Kinderhawe-eienaar uit op borgtog

Mike Cronjé
Mike Cronje (57), eienaar van die kinderhawe, In His Honor Outreach Foundation, is Dinsdag in die Brits-landdroshof op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Cronje is op 1 April deur die Valke by die kinderskuiling in Hartbeespoort in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Elf kinders is ook tydens die operasie van die perseel verwyder. Die Valke het na die inhegtenisname gesê die kinderhawe is onwettig bedryf aangesien dit nie by die departement van maatskaplike ontwikkeling as ‘n kindersentrum geregistreer is nie.
Daar is ook beslag gelê op selfone, veiligheidkamerastelsel en elektroniese toerusting.
In sy verklaring sê Cronje die wapens is oorlogmemorabilia en is jare gelede buite werking gestel. Hy voer ook aan dat die Valke hom op ongegronde bewyse en aantygings in hegtenis geneem het.
Die staat het nie die aansoek vir borgtog teengestaan nie, maar gevra vir ‘n bevel dat Cronjé nie met die kinders kontak sal maak nie. Die hof het die bevel toegestaan.
Die saak is tot 7 Mei uitgestel.