Kris op pad na wêreldkampioenskappe
Hartbeespoort-fietsryer, Kris van Straaten (47), is op pad na die wêreldkampioenskappe na hy twee weke gelede die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe gewen het.

Kris van Straaten
Kris het in die 40-49 kategorie gewen, wat in dié sport as die sterkste kompetisie beskou word.
“Ek het vanjaar net besluit ek gáán wen na ek die vorige twee jaar elke keer tweede gekom het. Na my tweede plek in 2024 het ek aan die wêreldkampioenskappe in Denemarke deelgeneem en 32ste geëindig. En vanjaar wil ek die wêreldkampioenskappe ook wen. Ek dink ek kan dit doen.”
Kris het die 140km wedren in drie ure en 22 minute voltooi. En toe hy tuis kom, het hy op sy fiets geklim om nog 20km te ry. “Net om my kop tot ruste te kry. Ek het ‘n snaakse verhouding met fietsry. Tydens voorbereiding vir wedrenne, vra ek myself hoekom ek dit doen. Dit is nooit lekker nie, my senuwees is klaar, ek is uitgeput en ek kry angsaanvalle. Ek het in Desember hard geoefen, ek het sowat 4 000km gery. Ek ry gewoonlik so 400-600km per week. Ek het myself kasty, gedink ek gaan nie wen nie. Die resies self is ‘okay’, maar ek haat die voorbereiding. Maar daai podiumplek… dit is wonderlik, ” lag hy.
Hy is uiters trots op sy wen. “Na twee jaar van tweede kom, het ek dit gedoen. Ek is baie trots op myself. Ek het my vrou en kinders gewaarsku, hulle gaan vir die volgende 365 dae moet saamleef met my spoggery. Ek mag maar!”
Maar dit is eintlik sy vrou en kinders wat medaljes moet kry, sê Kris. “My vrou, Cecile, en my drie kinders, Verné, Kayla en Christiaan maak meer opofferings as ek. Hulle het nooit Desember-vakansies soos ander gesinne nie want dit is my oefentyd vir die SA’s. Sonder hulle ondersteuning sal ek dit nie kan doen nie. En ek het ‘n wonderlike werkgewer wat my droom ondersteun. Die maatskappy het al al twee van my fietse geborg. Ek is geseënd met al dié mense in my lewe.”
Kris ry van skooldae af fiets, maar het opgehou toe hy na sy studies as instrumentasietegnikus begin werk het. “Ek het eers op 30 weer bietjie begin speel en ek ry die afgelope 12 jaar kompeterend.
Sy volgende groot resies is die Suid-Afrikaanse grondpadresies oor sewe weke in Swartberg. En dan oefen hy nou kliphard vir die wêreldkampioenskappe. “Ek dink regtig ek kan dit wen. Ek is nou klaar met ‘amper’ wen. Ek gaan wen!”

Kris van Straaten saam met sy vrou, Cecile, Christiaan, Verné en Kayla.