Kuierkerkers maak dorp skoon

24/07/2025News

Die Kuierkerk in Hartbeespoort het die afgelope weke ingespring om die dorp skoon te maak.

Christo ‘Horse’ Coetzee van Kuierkerk wat die skoonmaakprojek in die middedorp bestuur en twee van sy helpers, Caroneen Fee en Arina Buys.

Kuierkerk-lede woel die afgelope tyd om rommel langs die R511 in die middedorp en die taxi-staanplek op te tel, sowel as om die roete tussen Ifafi en Meerhof op te knap. Die 76-jarige Christo Coetzee en Cilna Lambrecht (66) tel byvoorbeeld daagliks op hul staproete tussen Ifafi en Meerhof sakke vol papiere en rommel op.
“Christo en sy vrou, René, was in 2011 deel van Anton se Kuierkerkprojek, Private Initiative, wat vir ‘n paar jaar lank maandeliks Harties se middedorp skoongemaak en brûe geverf het. Dis waar die Coetzees, wat Gautengers was, besef het hulle wil deel wees van hierdie geloofsgemeenskap,” sê René van Zyl van die Kuierkerk.
“Christo het besluit dit is weer tyd. Hy het die gemeente bymekaar gekry, en begin met heelwat vernuwingsprojekte Ons doen dit sodat inwoners weer trots kan wees op ons pragtige dorp,” sê sy.
Mense wat wil deel wees van die skoonmaakaksies of navrae het, kan Rose kontak by 082 258 0970.