Kunstefees om die draai
Die 37ste Hartbeespoort Kunstefees vind van 29 Julie tot 5 Augustus 2025 by verskeie venues in die Hartbeespoort-omgewing plaas.
Die fees het slegs ‘n voorgeskrewe kunstema, verder het deelnemers totale vryheid van keuses aangaande werke, stukke of aanbiedings. Sodoende behou elke deelnemer of groep eie identiteit en persoonlikheid. Die kunstema vanjaar vir graad 000 tot volwassenes is ‘Die Hart van Suid-Afrika’. Hierdie tema kan ook in die ander genres deurgevoer word, maar is nie verpligtend nie.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie 2025 en die koste per item per inskrywing beloop R60.
Die volgende afdelings word aangebied: Kuns, drama, klavier, instrumentaal, kitaar en klawerborde, populêre musiek, dans, formele sang en kore, modelwerk en skryfkuns. Die skryfkunsafdeling word uitgebrei sodat dit limirieke, en ook gedigte en kortstories insluit. Daar is geen tema vir die skryfkuns nie, maar met die herdenking van Afrikaans se 100-jarige bestaan is dit ’n ideale manier om dit te vier
Die volledige reëls, inskrywingsvorms vir alle afdelings, fooie en datums van die verskillende afdelings, is in ‘n prospektus uitgeensit. Belangstellendes kan navrae rig deur ‘n e-pos te stuur aan eurika.leroux@apms.co.za asook om ‘n prospektus te bekom of per whatsapp by 0822980418.
Die publiek is welkom om enige afdeling gratis by te woon. Tydens die openingsaand op 29 Julie 2025 by Generaal Hendrik Schoeman Laerskool in Schoemansville, sal die publiek ook die geleentheid kry om die uitstalling van die kunswerke te bewonder en te luister na plaaslike kunstenaars wat met hul talent die begin van die fees gaan afskop. Die uitstalling sal ook deur die loop van die week oop wees vir besigtiging. Skole, studio’s (dans, sang, musiek, drama, ens.), individue en groepe kan inskryf. Kom geniet saam met die Hartbeespoort Kunstekomitee ‘n 37ste Kunstefees wat talent uit die hoogste rakke gaan aanbied.