KYK: 4m Luislang jaag inwoner skrik op die lyf
‘n Inwoner van Primindia in Brits het Maandagoggend so groot geskrik vir ‘n 4m luislang dat hy uit sy erf gevlug het.
Die inwoner het ongeveer 06:30 op die luislang in sy motorhuis afgekom en buite sy erf gaan wag en sy buurman om hulp gevra.
“Ek het net my kinders by die skoolbus gaan aflaai en toe ek by die huis kom staan my buurman in die pad. Al wat hy kon sê was dat daar ‘n baie groot slang in sy erf is,” het die inwoner se buurman, Sanjay Kalidas, gesê.
Kalidas het gaan ondersoek instel en die bielie van ‘n luislang onder die motor in die motorhuis gevind. “Ek wou voorkom dat die slang seergemaak word en het ‘n slangvanger gebel.”
Intussen is Protego Sekuriteit ontbied en Jac-Louis Horn van Critter Chronicles het op die toneel opgedaag. “Toe ek op die toneel kom, was sekuriteitsbeamptes reeds daar om die toneel te beheer. Ons het die slang in die motorhuis gekry en ‘n sekuriteitsbeampte het my gehelp om die reuse luislang in ‘n houer te laai,” het Horn gesê.
“Die luislang is in goeie kondisie en is Maandagmiddag in ‘n natuurreservaat vrygelaat.”`