Man hang aan boom vir 2 ure na sy kar wegspoel

24/02/2025News

‘n Motoris het Woensdagoggend twee ure aan ‘n boom vasgeklou na sy kar deur ‘n watervloed van die R511 buite Brits in ‘n spruit afgespoel is.

Die R511 in die Beestekraal-omgewing waar die motoris deur die watervloed meegesleur is.

Volgens Leandre Spies, woordvoerder vir Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) is die motoris vroegoggend deur ‘n waterstroom in die pad in die Beestekraal-omgewing meegesleur en die kar het in die spruit beland wat in volle vloed was.
“Die motoris kon daarin slaag om uit die motor te kom voor dit deur die water meegesleur is. Hy het vir twee ure aan ‘n boom, sowat 15m van die naaste wal, vasgeklou voor iemand hom opgemerk het. Boere in die gemeenskap is na die toneel. ‘n Tou is aan een boer vasgemaak terwyl die ander dit op die wal vasgehou het en die boer is deur die stroom om die man uit die boom te red,” het sy gesê.
“Die boer is die held in die storie. Volgens die man, was hy op die punt om te los toe die boer hom bereik. Hy kon na twee ure in die koue water nie meer aan die boom vashou nie.”
HEMS het die man vir hipotermie op die toneel behandel en hom na ‘n hospitaal in Brits vervoer. Die kar is teen druktyd nog nie opgespoor nie.