Motoris in bors geskiet in N4-lokval

12/11/2024News

‘n Man (49) is in ‘n ernstige toestand in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal in Johannesburg na hy Vrydagaand deur rowers op die N4 snelweg naby Brits in ‘n lokval gelei en in die bors geskiet is.

Neil Coetzer (49) is steeds in ‘n intensiewesorgeenheid.

Neil Coetzer was vanaf Rustenburg op pad na Pretoria toe sy bakkie ongeveer 20:30 ‘n klipversperring, wat deur die rowers daar geplaas is, getref het. Die voertuig se band is beskadig. “Neil het ‘n ent verder gery tot waar hy kon en uitgeklim om die band te ruil,” het sy broer, Jacques Coetzer gesê.
“Volgens Neil was hy besig om die band te ruil toe vier gewapende mans skielik agter hom verskyn het. Hulle het onmiddellik begin skiet. Neil het met die wielmoersleutel steeds in sy hand begin hardloop. Twee het hom agternagesit. Hy het omgedraai en een met die moersleutel geslaan en toe skiet die ander een hom in die bors. Hy het net aanhou hardloop,” het Jacques gesê. Coetzer het probeer om voertuie te stop, maar motoriste het verby gery.
Intussen was Kobus Grobler van Aequitas Sekuriteit en GPF-lede reeds op pad na die toneel na inligting van Anglo American se Taktiese Reaksie-eenheid ontvang is dat ‘n hommeltuig die motoris, wat vermoedelik in ’n lokval gelei is, op die N4 waargeneem het. “Terwyl ons op pad was, het ons verneem dat die hommeltuig verdagtes in die bosse opmerk en ons het vir bystand op die N4-noodgroepe gevra.” Kort hierna het inwoners na aan die N4 skote gehoor en dit op die noodgroep geplaas.
GPF-lede het die bebloede Coetzer op die snelweg gekry. “Ons het op die N4 gery om te kyk of ons iets sien toe daar skielik ‘n persoon voor ons in die pad spring. Ons het hom rakelings gemis. Ons het sy voertuig ‘n afstand weg in die middel van die snelweg gesien en besef dit kan die persoon wees op wie geskiet is. Hy was vol bloed en het gesê hy is geskiet. Ons het op die N4-groep vir bystand gevra,” het GPF-lede, Elna en Johan Bouillon, gesê.
Polisie was vinnig op die toneel en nooddienste is ontbied. Weens die erns van sy skietwond is Coetzer per noodhelikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg gevlieg.
“Na ‘n soektog in die bosse waar die hommeltuig verdagte persone waargeneem het, is twee mans in hegtenis geneem,” het Grobler gesê. “Dit was die grootste rotse wat ons nog op die N4 gekry het. Ek weet nie hoe die rowers dit daar gekry het nie.”
Volgens Jacques, is Neil se skouer gebreek, senuwees beskadig en van sy ribbes is vergruis. “Hy het ‘n operasie ondergaan en dokters sal nog besluit of daar verder geopereer moet word om senuwees te heg. Hy kan darem al sy arm effens lig, maar kan glad nie sy hand gebruik nie. Van die dreineringspype is al uit sy bors verwyder. Hy is in ’n stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid. Ons wil Kobus Grobler, die GPF-lede, Anglo American, polisie en almal wat gehelp het bedank vir wat hulle vir ons gedoen het. ”