Nico wen SA’s op 75 – en dít na ernstige siekte!

13/02/2025News

Ek ry myself gesond,” sê die 75-jarige Nico van Eck van Hartbeespoort wat die afgelope naweek die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe in die 75+ afdeling gewen het.

Nico van Eck (75)

Nico het Sondag die 80 km padresies in twee ure en 26 minute voltooi, sowat 10 minute voor sy mededingers! En dit net ‘n paar maande na ‘n kankerdiagnose en lang gesondheidstryd.
“Na Nico verlede jaar die Suid-Afrikaanse grondpadresies gewen het en op pad was na die wêreldkampioenskappe, is hy met prostaatkanker gediagnoseer. “Dit was verpletterend, ek moes my droom laat vaar en hospitaal toe gaan om die kanker te laat verwyder en toe tel ek boonop ‘n kiem in die hospitaal op. Ek was vir maande baie siek. Ek het nie gedink ek sal ooit weer kan fiets ry nie. Danksy ‘n medefietsryer wat my kop weer in die regte rat gekry het, het ek November vir die eerste keer in die saal geklim en stadig begin. Ek kon aanvanklik nie op die saal sit nie en moes staande ry. Dit was eers ‘n maand voor die SA’s dat ek weer gemaklik kon sit. Ek het nie eers daaraan gedink om aan die SA’s deel te neem nie. Ek het eers twee weke voor die resies besluit om deel te neem. Ek het nooit gedink ek gaan wen nie, ek wou net ‘n podiumplek hê.”
En daar wen hy! “So op 50km toe breek ek weg van die groep. Ek kon nie verstaan hoekom die ander agterbly nie en ek kom by die wenstreep en wag nog tien minute vir die res om aan te kom. Dit was ongelooflik,” sê Nico. “Ek het agtergekom ek is nou beter as wat ek ooit was.”
Nou is sy oog op die wêreldkampioenskappe in Augustus as dit moontlik is. “Die Here het my nog ‘n kans gegee, en ek sal dit graag wil doen.”
Nico het eers in sy dertigerjare begin fietsry en moes vir 18 jaar ophou na ‘n ernstige fietsryongeluk in 1994. “My bobeen het lelik gebreek en na ‘n groot operasie en penne, het ek nie gedink ek sou ooit weer kon ry nie. Na my aftrede, het ek op 66 weer so liggies saam met die fietsryers van Harties Fietsryklub begin ry. Tot my verbasing het my been al sterker geword en voor ek my kon kry, het ek wedrenne begin ry. Ek het myself gesond gery. En nou weer!”
Nico het ‘n lang lys wedrenne
Hy oefen gemiddeld vier dae per week waartydens hy 40 to 100km per dag ry. “My gunsteling ryplek is Hekpoort. Ek het nie ‘n afrigter nie… ek is my eie afrigter,” lag hy.
“Ek is geweldig dankbaar vir nog ‘n kans. My motto in die lewe is jy moet droom, en jy moet jou droom leef.”