Pa soek antwoorde na seun se dood

29/02/2024News

Pieter de Bruin (22)

‘n Hartbeespoort Pa, wie se 22 jarige seun twee jaar gelede in ‘n ongeluk op die Van der Hoffpad dood is, sukkel steeds om antwoorde oor die vordering van ‘n strafbare mansslag-saak te kry.
Sy seun, Pieter de Bruin, is op 8 Maart 2022 opslag dood toe ‘n sleepvoertuig wat ‘n trok gesleep het, voor hom ingery het. “Dit was na die pad vroeër die dag met bome en klippe versper was tydens ‘n betoging. Die polisie het die pad veilig verklaar en oopgestel vir motoriste. My seun het ongeveer 22:30 hier gery en die sleepvoertuig en trok het onverwags van die skouer van die pad voor my kind ingery.
Die insittendes in die trok het van die toneel gevlug,” sê Tinus de Bruin. “Die trok se ligte was nie aan nie. Dit was ‘n pikswart trok en nie sigbaar in die nag nie.”
Volgens De Bruin, is daar na twee jaar nog geen terugvoer van die polisie nie. Pieter sou die afgelope Maandag 26 Februarie sy 24ste verjaarsdag gevier het.
“Volgende week sal dit twee jaar wees sedert sy dood en daar is nog niks gedoen aan die persoon wat die ongeluk veroorsaak het nie. En die ergste is, ek sien die persone en hul voertuie van die besigheid op ‘n daaglikse basis. Ek het nou besluit om die pers te nader, en het ook Carte Blanche gekontak met die hoop om die ondersoek lewe te gee. Ek sal in die hoogste hof gaan baklei vir geregtigheid.”
Die gemis word nie minder nie, sê Tinus. “Hy was ‘n steunpilaar in ons lewens en het altyd eerder ander gehelp en homself uitgeleef vir sy passie om die gemeenskap veilig te hou. Hy het uitgeblink in sport en in alles wat hy aangepak het. Hy het soveel drome gehad en so groot liefde vir diere. Ek sal nie rus tot geregtigheid geskied het nie. Sy dood het ons lewens onherroeplik verander.”
“Ek wil vir ander ouers die hartseer spaar om deur dieselfde gebeure te gaan waardeur ek gaan. Al wat ek in twee jaar gekry het is net ‘n saaknommer vir strafbare manslag. Geen ondersoekbeampte het my nog gekontak nie.”
Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, is die ondersoek in die laaste stadiums voor dit aan dit aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig word vir ’n beslissing. “Forensiese ondersoeke duur lank. Die verdagte is aan ons bekend en ons weet waar hy is. Die ondersoekbeampte sal De Bruin kontak sodra die ondersoek afgehandel is en aan die NVG oorhandig word.”