Paramedici gaan uit hul pad om beseerde drawwer se familie op te spoor
Paramedici van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) het verlede week uit hul pad gegaan om ‘n beseerde drawwer se familie te soek toe sy nie in staat was om persoonlike besonderhede te verskaf nie.

hemsparamedici_53142_Claro1
Pierre van Niekerk, Jaco Meintjies en Lot Motiang van HEMS.
“Die drawwer is deur ‘n voertuig getref terwyl sy gedraf het en HEMS is ontbied. Sy was deurmekaar en kon nie besonderhede verskaf nie. Sy is per ambulans na die Brits Provinsiale Hospitaal geneem omdat ons nie geweet het of sy mediese dekking het nie. Paramedici weet hoe belangrik dit is om familielede van beseerdes op te spoor. Hulle kon mettertyd vasstel wat haar van is en het op Facebook begin soek na ‘n vrou met dié van en ‘n profielfoto wat soos die drawwer lyk. Hulle het ‘n moontlike profiel gevind en boodskappe aan die persoon se man en dogter gestuur,” het Leandre Spies, woordvoerder vir HEMS gesê.
Die drawwer se man het intussen na haar begin soek en kon haar nie in die hande kry nie. “Hy was baie bekommerd het terloops gesien hy het ‘n boodskap op Facebook. Hy het aan die paramedici gesê hy is byna nooit op Facebook nie en dat dit baie uitsonderlik is dat hy die boodskap gesien het. Hy het met die paramedici kontak gemaak en bevestig dat hulle mediese dekking het waarna die drawwer na Brits Mediclinic oorgeplaas is. Hy was baie dankbaar,” het Spies gesê.
“Die drawwer het ‘n beenfraktuur en ander beserings opgedoen. Ons wil dankie sê vir ons toegewyde personeel, Pierre van Niekerk, Jaco Meintjies en Lot Motiang, wat altyd die ekstra myl stap om pasiënte in hul sorg te help. Hulle is die toonbeeld van ons kernwaardes om die beste sorg aan pasiënte te verskaf.”