Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, is gekies as ‘n finalis in vanjaar se ATKV Woordveertjies-toekennings.
Die ATKV bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord en ander skrywers in ander kategorieë wat genomineer is, sluit bekendes soos Etienne van Heerden, Helene de Kock, Rudie van Rensburg en Deon Meyer in.
Die ATKV vereer jaarliks bydraes oor ‘n breë spektrum – van woordeboeke tot prosawerke, romanses, poësie, spanningslektuur tot dramareekse. René se romanse, Belle, met die hart vol blomme (Romanse) is gekies as een van die finaliste in hierdie afdeling. Skrywers wat saam met haar genomineer is, is Dina Botha en Bets Smith.
Die romanse handel oor Izabel Blomerus, oftewel Belle, eienares van ‘n blommewinkel in Potchefstroom, wat stoei met trauma van ‘n pa en ‘n eggenoot wat haar verwerp het en sukkel om weer in liefde te glo tot sy ‘n wildvreemdeling ontmoet wat haar hart kan genees.
“Dié boek is vir my baie spesiaal omdat dit nie net in my grootworddorp, Potchefstroom, afspeel nie, maar omdat huisvriende van ons se dogter van Hartbeespoort en haar man op die voorblad verskyn,” het René gesê.
René het meer as twintig boeke op haar kerfstok – van romanses, tot samesweringsromans, jeugboeke en kortverhale in verskeie kortverhaalbundels. Sy het ook al twaalf gemeenskapsmusiekblyspele in Harties geskryf en opgevoer.
René sê sy is baie opgewonde om ‘n finalis in hierdie groot kompetisie te wees. Sy het ook in 2020 die ROSA Imbali toekenning ontvang vir ‘n romanse, Storm vol liefde. Die ATKV-toekennings poog om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek en moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry, sê Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW.
Wenners word in September bekend gemaak.