Plaaslike skrywer se boek in skole voorgeskryf

13/02/2025News

Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, se jeugboek is nou vir skole voorgeskryf.

René van Zyl en Tuimeltrein wat nou in skole voorgeskryf word.

“Ek is baie opgewonde, dit is ‘n eer wat min mense te beurt val, maar wanneer een mens in jou en jou boek glo, is dit al wat jy nodig het, sê René, wat in 2024 ‘n ATKV-Woordveertjie gewen het.
Haar jeugboek, Tuimeltrein, is vir graad-12 leerders van IEB-skole (onafhanklike eksamenraad) voorgeskryf.
Tuimeltrein is reeds in sy tweede drukproses. “Dit is ‘n besondere groot voorreg,” sê sy. René skryf in verskillende genres, van samesweringsromans tot jeugboeke en romanse. Haar idee met die skryf van die boek was om tieners daarop voor te berei dat die hele lewe basies ‘n holderstebolder tuimeltreinrit is, nie net ‘n gemaklike en voorspoedige reis nie. “Daar sal hoogte- en laagtepunte wees, maar jy moet net vashou en die rit gate uit geniet. Die boek handel oor drie graad-11 leerders met niks in gemeen nie, maar wanneer hulle moet saamwerk aan ’n groeptaak en dan die ooggetuies is van ’n moord, word hulle saamgegooi op ’n wilde tuimeltreinrit. Sonder selfone en met niemand wat in hulle onskuld glo nie, moet hulle op mekaar staatmaak om te oorleef.”
Humor en spanning is vervleg om nog meer leesplesier te verskaf. Boonop speel die jeugroman in Hartbeespoort af en lesers sal die plekke wat daarin voorkom, herken.
Volgens die bekende resensent, Anschen Conradie, is Tuimeltrein ‘n heerlike aweregse avontuurroman vir lesers van 14 jaar en ouer. “Ten spyte van die ligte aanslag lewer die roman kritiese sosiale kommentaar op die verhoudings tussen ouers en kinders, sowel as tussen tieners met uiteenlopende persoonlikhede en agtergronde, en ondersoek die basis van vertrouensverhoudings en selfaanvaarding teen die agtergrond van ‘n avontuur wat teen die tempo van ‘n tuimeltrein voortsnel. Elkeen van die drie hoofkarakters se perspektiewe word ‘n vertelruimte gegun en verseker sodoende dat die leser empatie met al drie ontwikkel – geeneen van hulle is ‘n individuele held nie, en hulle oorlewing is juis afhanklik van hulle samewerking.”
Daar word reeds beplan aan skoolopvoerings en onderwysershandleidings gebasseer op die jeugroman.
“Om te weet dat so baie tieners die boek uiteindelik gaan lees en dieper kwessies in klasverband sal bespreek, is enige skrywer se droom,” sê René.
Die boek is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels.