Plaaslike skrywer wen ATKV Veertjie
Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, loop letterlik met ‘n veer in haar hoed rond, nadat sy aangewys is as die 2024 wenner van die ATKV-Woordveertjie-toekenning vir haar roman, Belle met die hart vol blomme.
Sy deel nie net die eer met haar suster, Esmé Walker, wat in 2005 ‘n Veertjie gewen het vir kinderboekillustrasies nie, maar ook met vanjaar se waardige en bekende wenners. Die wenners sluit vanjaar skrywers soos Deon Meyer, Fanie Viljoen, E. Kotze, Anelia Heese en S.J. Naude.
Die ATKV-Woordveertjies word aangebied om uitsonderlike bydraes rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse skrywers en illustreerders het al met ’n veer in hul hoed weggestap.
“René van Zyl se taalvaardigheid en gemaklike skryftrant was volgens hulle deurgaans uitstaande. Die aanvangstoneel van die verhaal is besonder sterk en die verrassende einde van die eerste hoofstuk asook die talle onverwagte wendings en einde het ‘n uiters geslaagde storielyn oplewer. Belle, met haar wil om haar persoonlike teleurstellings te oorkom en geluk te vind, en dit met ‘n goeie skoot humor, het almal se harte gesteel,” was die beoordelaars se kommentaar op René se roman.
“Boekwurms wêreldwyd sal jou vertel dat min dinge ’n goeie liefdesverhaal klop, en ook in Afrikaans staan liefdesromans hul plek op boekrakke vol. Dit is ‘n groot eer om deur Lapa Uitgewers genomineer te word, veral saam met groot skrywers soos Dina Botha en Bets Smith wat saam met haar finaliste was, en dis net so ‘n groot eer om hierdie gesogte prys van ATKV te ontvang,” het René gesê.
Die verhaal speel in haar grootworddorp, Potchefstroom, af en haar vriendin, Daleen, ‘n oud-Hartbeespoorter se dogter en haar man pryk op die voorblad. “Dit is juis Deo-Dané en Stefan Van Der Merwe se pragtige foto op Facebook wat my inspirasie was om hierdie boek te skryf,”
René het al meer as twintig boeke in verskillende genres die lig laat sien. Dit sluit samesweringsromans (Die Alfadokument en die Omegakomplot), jeugverhale (Die monster in my melkskommel en Tuimeltrein) en vyftien Romanzas in. Sy het ook verskeie kortverhale in bundels saam met bekende skrywers gepubliseer soos die onlangse Sewe keer Sondig en Op pad na Grysberg.
Belle, met die hart vol blomme is beskikbaar by boekwinkels landwyd, LAPA Uitgewers, Graffiti Books en as e-boek op Lapa en Amazon se webblaaie.