Uiltjie oorleef vernietigende veldbrand
‘n Baba Vlei-uiltjie het wonderbaarlik oorleef na ‘n vernietigende veldbrand wat die res van die broeisel op ‘n plaas in De Wildt uitgewis het.
Suzette Pëtersen en nog inwoners het verlede week verbete teen die veldbrand geveg toe hulle in ‘n stadium ‘n uil in ‘n boom opgemerk het. “Terwyl ons brandslaan het ons die uil dopgehou en gesien hoe ‘n Byvreter die arme uil aanval wanneer die uil vlieg. Ons het aanhou vuur slaan en na ‘n tyd is ek terug na die area waar die uil gesit het. Daar was nog ‘n paar kolle om te blus en toe kom ek op ‘n verbrande baba-uil af. Ek het seker gemaak die arme dingetjie is wel dood, en net toe ek wou wegloop, vang ‘n beweging my oog ‘n ent verder waar dit steeds brand. En daar sit die kleintjie. Hy was vuurwarm, en as hy nie op daardie oomblik beweeg het nie, het ek hom nie gesien nie en dan was hy dood. Ek het besef dit was hoekom die uil in die boom gesit het,” het Suzette gesê.
Sy het die Vlei-uiltjie opgetel en die Owl Rescue Centre gekontak wat die uiltjie kort daarna kom haal het. Brendan Murry van die Owl Rescue Centre het dié week gesê die uiltjie het wonderbaarlik nie eers ‘n geskroeide veer nie en is gesond. Hy sal versorg word tot hy groot genoeg is om vrygelaat te word.
Vlei-uile maak hul neste in grasveld en lê tussen twee en ses eiers. Die kleintjies bly by die ouers tot hulle drie maande oud is.
“Veldbrande eis soveel uile en ander diere se lewens en dit is uiters belangrik dat landelike inwoners versigtig moet wees met veldbrande en voorbrande. Soveel klein diertjies soos skilpaaie, hase ens word jaarliks doodgebrand.”