Boer en honde 2 dae op berg vasgekeer na vloede
‘n Boer van Assen naby Brits en sy vyf honde was byna 2 dae op ‘n berg vasgekeer na hulle van die plaas uit die watervloed moes vlug. Hy is uiteindelik Donderdagmiddag deur ‘n helikopter na veiligheid geneem.

Henk Knouwds (44) en sy vier honde wat twee dae lank in die vloed vasgekeer is.
Henk Knouwds (44), wat op die Pienaarsrivier se wal boer, was alleen op die plaas toe die Klipvoordam Woensdag sy walle oorstroom het en vloedwaters die Assen-gebied verspoel het.
“Woensdagmiddag het die rivier in volle sterkte oor die laagwaterbrug by die plaas begin spoel. Ek was toe reeds vasgekeer. Gelukkig het my vrou vir haar ouers gaan kuier. Ons het voorheen oorstroom, maar die ergste was dat die huis net sowat baksteen-hoogte onder water was. Ek en die werkers het die huis begin ontruim en die inhoud na ‘n hoërliggende stoor geskuif,” het Henk vertel.
“Donderdag in die vroeë oggendure het ek gesien die rivier was in volle vloed en dit gaan net toeneem. Ek wou die honde in die bakkie laai en probeer uitkom. Wat ek nie besef het nie, was dat die rivier toe alreeds van die anderkant af ook die gebied oorspoel het. Ek moes so gou moontlik wegkom. Dit was ‘n traumatiese ervaring, as ek twee honde in die bakkie kry en omdraai om die ander te gaan haal, spring dié in die bakkie weer uit om by my te bly. Ek het probeer om die bakkie te ry tot waar ek kon, maar in ‘n stadium was die water reeds oor die bakkie se enjinkap en ons het gaan staan. Ek en die honde het gesukkel om op droë grond langs die stygende watervlak te kom.”
Henk en die honde het die res van die nag langs die stygende watervlak deurgebring. “My selfoon was pap en ek kon geen kontak met die buitewêreld maak nie. Dit was ‘n rowwe nag, ek moes deurentyd die watervlak dophou. Toe dit lig word, is ons teen die berg uit waar daar ‘n Chinese kerkie is. Ek het ‘n kombers gekry en so bietjie geslaap. Toe ek wakker word, is ek en die honde weer berg af. Ons was sowat 2.5km van die plaas af. Die watervlak het egter nog gestyg. Ons is weer terug na die kerk toe. Ek was heeltemal afgesny van die buitewêreld, en ek kon niemand kontak nie.”
Intussen het Henk se buurman en sy vrou erg bekommerd geraak na hulle hom vir twee dae nie in die hande kon kry nie. Gemeenskapslede, die Brits gemeenskapspolisiëringsforum, polisielede, Anglo American se taktiese reaksie-eenheid en SSG Sekuriteit se helikopter het ‘n grootskaalse soektog na Henk geloods.

Die Knouwds-plaas wat oorstroom is.
“In ‘n stadium, het ek beweging op ‘n plaas oorkant die vloedwater gesien. Ek het so hard geskree as wat ek kon. Wat gevoel het na ‘n ewigheid, het iemand uiteindelik gehoor. Hulle het my buurman gebel en die soekgeselskap is in kennis gestel.” Die SSG-helikopter het Henk en sy honde laat Donderdagmiddag na veiligheid gevlieg.
“Ek wil my dank uitspreek aan elkeen wat gehelp het. Gelukkig het ons geen diere verloor nie. Die perde het voor die vloed uitgevlug en ek kon die honde uitkry. Dit was net die Here se genade. Ons is dankbaar.”