Brits-boere gaan gebuk onder stropers, soek hulp van wetstoepassers
Wildboere buite Brits gaan ernstig gebuk onder stropery en veediefstal en ten spyte van herhaaldelike versoeke om hulp aan wetstoepassers, vererger die situasie by die dag.
“Wild word op ‘n daaglikse basis in strikke gevang en geslag en ten spyte van boere se patrollies en aanmelding van sake, kry die boere geen hulp nie. Hulle is al moedeloos en wil nie eers meer die moeite doen om dit aan te meld nie,” het Janus Fourie van die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) gesê.
“Die enkele verdagtes wat wel gevang word, se sake word deur die hof uitgegooi.”
Die boere was veronderstel om verlede week met die polisie, natuurbewaring-departement, justisie en ander rolspelers te vergader, maar moes dit afstel omdat die rolspelers op die nippertjie nie teenwoordig kon wees nie.
“Dit is met groot teleurstelling dat ons die vergadering uitstel tot latere kennisgewing as gevolg van die betrokke partye wat nie ons probleem groot genoeg ag om dit by te woon nie. Ons as KGBG gaan dit nie hier los nie en sal dit nou verder vat tot daar gehoor gegee word aan ons uitdagings met stropery en veediefstal,” het Fourie gesê.
SIEN OOK: Stropers, Veediewe Saai Verwoesting Op Brits-Plase