Margerite is Boervrou van die Jaar

02/10/2025News

“Ons leuse is om elke dag op goeie grond te saai… nie net om te oes nie, maar ook om terug te gee.”

Margerite, Charl, Carli en Ockert van Niekerk.

So sê Margerite van Niekerk, ‘n boervrou van Brits wat onlangs as Bayer se Boervrou van die Jaar 2025 aangewys is.
Die 36-jarige boervrou boer saam met haar ouers, haar man, en haar twee broers op die 1 000 hektaar familieplaas op Rooikoppies by Brits. Margerite is onder meer verantwoordelik vir die administrasie en aankope op die plaas. Hulle lewer groente, soja en ander gewasse aan varsproduktemarkte regoor Suid-Afrika.
“Boerdery is in my bloed. Boerdery is in die hele familie se bloed. Ek het op die plaas groot geword, en ek is nog steeds hier. Daar is nie ‘n ander lewe wat ek my kan voorstel nie,” sê sy. Die Bayer Boervrou van die Jaar-kompetisie gee erkenning aan die vroue wat die ruggraat van die boerderygemeenskap vorm – óf dit nou boere se vroue is óf die vroue wat aan die hoof van ’n boerdery staan. Die kriteria vir die kompetisie is gebaseer op die vrou se algehele betrokkenheid op die plaas sowel as in haar breër gemeenskap.
Margerite het ‘n epos van Bayer ontvang met die geleentheid om in te skryf. Sy is uit honderde vroue as die wenner aangewys. “Dit was ‘n groot verrassing en ek voel geëerd om die toekenning te kry. Ek glo aan gee, en soms kom dit op ‘n vreemde manier na ‘n mens terug.”
Margerite en haar familie is nou betrokke by die gemeenskap. “Ons skenk groente en donasies op ‘n gereelde grondslag aan ‘n klomp plaaslike skole en nedersettings, sowel as ouetehuise. Ons is geseënd en ons ploeg terug in die gemeenskap om dankie te sê. Die kompetisie was meerendeels oor jou betrokkenheid in die gemeenskap,” sê sy.
Sy en haar man, Charl, is 13 jaar getroud en die trotse ouers van Ockert (10) en Carli (8). “Ons is 18 familielede en vier geslagte wat op die plaas woon en werk. Ons werk almal so lekker saam want ons werk om ‘n nalatenskap vir ons kinders te laat. En ons hoop om dieselfde liefde vir die grond aan hulle oor te dra.”
Margerite het haar prysgeld van R10 000 aan die Opkyk Pathway Sentrum vir Gestremdes in Brits geskenk.” Dit is iets wat die Here in my hart gelê het. Ek het my kinders saamgeneem toe ons die oorhandiging gedoen het om vir hulle te te leer om ‘n liefde te kweek vir maatjies wat nie so bevoorreg is nie. Empatie is iets wat van jongsaf gekweek moet word. As mens geseënd, is moet jy teruggee om jou dankbaarheid te bewys,” sê sy.
“Ons oes nie net nie, ons gee ook.”