N4- ‘oppassers’ begelei skoolbus vir 100km
N4- ‘oppassers’ begelei skoolbus vir 100km
‘n Vrywillige taakmag wat die afgelope maande spykerlokvalle op die Bakwena N4-snelweg bekamp, het verlede week skoolbusse met meer as ‘n 100 kinders vir meer as 100km begelei om te verseker dat hulle veilig by hul bestemming kom.
‘n Laerskool in Rustenburg moes oor twee dae bykans 100 klein dansertjies vanaf Rustenburg na Pretoria en terug vervoer vir ‘n konsert. Met die gevaarlike spykerlokvalle op dié pad was dit vir die skool en ouers ‘n groot bekommernis. Plaaslike rolspelers in De Wildt en Brits het vroeg vanjaar ‘n N4-spykerloval WhatsApp-noodgroep gestig om motoriste op dié gevaarlike snelweg by te staan. ‘n Personeellid van die skool het ‘n administrateur van die groepe, Kobus Grobler van Aequitas Sekuriteit, genader vir hulp.
Volgens Grobler is ‘n versoek is aan alle rolspelers op die roete geplaas en sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums en ander rolspelers het onmiddellik gereageer. Die bus met kinders is vir twee agtereenvolgende aande vanaf Pretoria deur die onderskeie rolspelers vergesel. Dit sluit in Aequitas Sekuriteit, Afrique du Sud K9 Sekuriteit, Monitornet Sekuriteit, Anglo Taktiese Reaksiespan, Afriforum Mooinooi en Gauteng National Intervention Unit.
“Dit was ongelooflik. Die spanne het op strategiese plekke by mekaar oorgeneem en die hele pad saam met die bus en ouers in ‘n konvooi gery,” het Sonika Lottering van Laerskool Protea Park gesê.
“Ons almal was vooraf bang vir die terugritte na 22:00 saans vanaf Pretoria na Rustenburg. Die hulp van dié span het vir ongelooflike gemoedsrus gesorg. Hulle het ook deurentyd met ons gekommunikeer. Namens die skool, ons kinders en die ouers, wil ons ons innige dank uitspreek aan elke rolspeler wat gehelp het om ons almal veilig by die huis te kry,” het sy gesê.
‘n Enkele WhatsApp-groep wat in Maart vanjaar gestig is, het nou tot 19 groepe gegroei met ongeveer 20 000 lede. Die administrateurs is almal in De Wildt-, en Brits-omgewing vanwaar die groepe gemonitor word.