Seniors in aksie

‘n Aksieprogram vir seniors het in Hartbeespoort afgeskop om die algehele welstand van senior burgers te verbeter.
Marita Berrisford, ’n taklid van Solidariteit Helpende Hand Hartbeespoort het onlangs die Seniors in Aksie-program by Ellie Care Centre van stapel gestuur. Hierdie program is saamgestel deur die Mind Moves Instituut in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike afdeling, met die doel om die algehele welstand van bejaardes in die gemeenskap te bevorder.
“Baie bejaardes in versorgingseenhede ervaar gevoelens van eensaamheid, moedeloosheid en nutteloosheid namate hul afhanklikheid van versorgers, die gemeenskap en – op finansiële vlak – die staat toeneem. Hierdie faktore kan aansienlike spanning skep. Die Seniors in Aksie-program is ontwikkel om hierdie uitdagings holisties aan te spreek,” sê Nadia van der Merwe, streekmaatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand Platinumstreek.
Die program strek oor 20 weke en fokus op die aanleer van Senior Mind Moves-bewegings. Die bewegings se doel is om die senuweestelsel te stimuleer, breinfunksie te verbeter, beweging aan te moedig en ontspanning te bevorder. Internasionale navorsing toon dat hierdie tipe bewegings langdurige voordele inhou, insluitend die vertraging – en soms selfs omkering – van sekere aspekte van die verouderingsproses.
“Benewens die fisiese komponent, bevat die program ook ’n sterk maatskaplike fokus. Dit bevorder emosionele, sosiale en geestelike welstand deur middel van gesprekvoering, musiek, groepsaktiwiteite en geleenthede vir sosialisering. Hierdie elemente dra by tot verbeterde gemoedstoestande en help bejaardes om in sekere opsigte weer ’n gevoel van onafhanklikheid te herwin.”
Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers voorsien opleiding aan taklede in hul onderskeie gemeenskappe om die program by versorgingseenhede of in die breër gemeenskap uit te rol, gebaseer op die geïdentifiseerde behoefte. Die opleiding en kursus word gratis by versorgingseenhede aangebied en is reeds in 2024 suksesvol in Mooinooi by Huis Bet-EL, wat slegs SASSA-pensionarisse inneem, uitgerol.
Dit is vir Solidariteit Helpende Hand moontlik om hierdie kursus gratis aan te bied danksy die ondersteuning van die Ons Winkels in die gemeenskap. “‘n Groot gedeelte van die Ons Winkels se inkomste word net so terug geploeg in die gemeenskap vir verskeie projekte (sommige meer sigbaar as ander) soos die Seniors in Aksie-projek.”
Vir meer inligting oor hierdie program, kontak Nadia van der Merwe by 083 613 1238.








