Christo van Staden sê totsiens!

14/03/2024News

Christo van Staden sê totsiens!

Na byna 25 jaar as geliefde apteker in Hartbeespoort, groet Christo van Staden van Arrie Nel Ifafi Apteek volgende week die gemeenskap en Hartbeespoort om nuwe uitdagings in die Kaap aan te pak.
“Dit is nie maklik nie, ek het in Brits en Hartbeespoort groot geword, gewerk en hier gebly en dit is moeilik om die mense en die plek te groet, maar dit is tyd vir ‘n nuwe uitdaging. Toe ek in 2005 Arrie Nel Ifafi oorgeneem het, het ek om die gebou gestap en gesê ek wil dit, en dit en dit doen… en ek het alles gedoen wat ek wou. Nou gaan ek iets nuuts aanpak,” sê hy.
Christo, sy vrou, Monia, en hul twee jongste kleingoed, Elané (12) en MC (6) verhuis na Robertson waar Christo ‘n apteek gekoop het. Sy oudste dogter, Marli bly agter in Hartbeespoort en by dié apteek. “Ons het Robertson gekies vir die rustige omgewing waar ek meer tyd saam met die gesin sal kan deurbring. Dit is platteland soos Hartbeespoort. Die plek en die gemeenskap laat my nogal baie aan ons dorp dink.”
Christo het in 2000 as lokum in Hartbeespoort begin werk voor hy in 2005 Arrie Nel Ifafi oorgeneem het. “Ek het ‘n lang pad met Hartbeespoort se inwoners gestap en hulle het vriende geword. As dit nie vir die gemeenskap was wat my ondersteun het nie, sou ek nooit alles kon doen wat ek wou bereik nie. Ek wil ieder en elk se bydra, hoe klein ook al, dankie sê. Ek is lief vir die mense en Hartbeespoort en ek gaan almal mis. Ek gaan ook my personeel en kollegas mis, dit was ‘n wonderlike ondervinding,” sê Christo.
Wat het hom laat besluit om Hartbeespoort te verlaat? “Ek het sowat ‘n jaar terug een oggend opgestaan en vir my vrou gesê dit is tyd vir iets nuuts. Dinge het net in plek geval. Ons sien uit na die nuwe uitdaging, maar dit is ook nie maklik nie. Ons is lief vir Hartbeespoort. Maar ek is nie vir altyd weg nie. Ons sal kom kuier, julle sal ons in die straat sien. En baie mense het my nommer.”
Christo groet volgende Woensdag, 20 Maart, die apteek en die groot trek vind net hierna plaas.
En nou kan en niks meer sê nie, anders gaan ek grens!”