Meerhofskool word 80

15/02/2024Schools

“Hoe meet ‘n mens ‘n skool se sukses? Is dit goeie akademiese uitslae? Is dit fantastiese sportspanne? Is dit kultuur uit die boonste rakke? Is dit ‘n gedrewe en positiewe personeel? Dalk is dit al die bogenoemde, maar by ‘n skool soos Meerhofskool is sukses soveel meer,” sê Sonja van Wyk, adjunkhoof van Meerhofskool.
Dié besondere skool is vanjaar 80 jaar oud en het al vir duisende kwesbare en spesiale kinders ‘n veilige onderwysfasiliteit gebied.”Vir 80 jaar al bied hierdie baie spesiale skool ‘n veilige hawe vir leerders met fisiese gestremdhede en leerhindernisse. Hier word nie net fisiese wonde nie, maar veral emosionele letsels behandel en genees. Hier word ‘n gebroke kind heel en word sy menswees herontdek. Hier word vriendskappe deur gesamentlike swaarkry gesmee, vriendskappe wat vir baie jare nog voortbestaan,” sê Van Wyk.
Meerhofskool het tydens die 2de Wêreldoorlog as ‘n hospitaalskool onder die bekwame leiding van die eerste skoolhoof, Me Baumbach, begin. Aanvanklik is slegs fisies gestremde leerders hier gehuisves en almal was inwonend in die skoolkoshuise. 80 Jaar later is Meerhofskool ‘n gerekende skool in die Noordwesprovinsie en kan die skool spog met ‘n 100% Graad 12-slaagsyfer vir 15 jaar agtereenvolgende jare.
“Wat baie mense nie besef nie, is dat leerders in Meerhofskool dieselfde akademiese kurrikulum as hoofstroomskole volg en dieselfde Nasionale Matriekeksamen skryf. Die klasse is wel kleiner, wat meer individuele aandag beteken en terapie word gedurende die skooldag aangebied. Die skool huisves tans ongeveer 240 leerders van graad R tot graad 12, en daar is ook ‘n vaardigheidsfase vir leerders wat nie die gewone hoofstroom akademiese kurrikulum kan volg nie. Sowat 86 leerders bly gedurende die week in die vier koshuise en daar is verskeie bussies wat leerders van Hartbeespoort en Brits na die skool toe aanry.”
‘n Personeel van 105, bestaande uit baie ervare onderwysers, klasassistente, terapeute, verpleegsusters, koshuispersoneel, kombuispersoneel, skoonmaak-afdeling, administrasie, drywers en terreinwerkers verseker dat die leerders die beste sorg en onderrig wat moontlik is ontvang.
“Aangesien staatsfondse nie voldoende is om ‘n skool soos hierdie in stand te hou nie, maak Meerhofskool baie staat op fondsinsamelings soos ons jaarlikse gholfdae, en ‘n baie unieke konsert waaraan alle leerders jaarliks deelneem.”
Dié baie spesiale skool vir hul 80ste verjaarsdag op 16 Maart 2024. Alle oud-Meerhofleerders en -personeel word hartlik uitgenooi om die geleentheid saam te kom vier. Dit neem die vorm aan van ‘n Dankseggingsdiens om 15:00 in die skool se kapel, en daarna ‘n bring-en-braai en kuieraand. Oud-leerders kan weer hulle tienerjare herleef deur in die koshuis te kom oorslaap. Kontak die kantoor by 012 259 1241 indien u die feesdag wil bywoon.