Twee vroue dood in gru-ongelukke
‘n Vrou is dood en haar baba beseer in dié ongeluk in De Wildt.
‘n Vrou is dood in ‘n botsing op die R513.
‘n 32-jarige ma is dood en haar baba beseer in ‘n botsing met ‘n trok by die De Wildt/Rosslynpad-kruising Dinsdagmiddag.
Die impak van die botsing het veroorsaak dat die vrou,’n polisiespeurder, se Ford Figo aan die brand geslaan het. Sy was in die motor vasgekeer, maar gemeenskapslede kon daarin slaag om die brand vinnig te blus. Nooddienswerkers het die baba uit die motor gered en na ‘n hospitaal vervoer.
Die vrou is deur die polisie geïdentifiseer as sersant Sarah Maswanganye. Sy was ‘n speurder by die Rietgat polisiekantoor. “Die baba is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal,” het polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, gesê.
Mmakau polisie het ‘n strafbare mansslag-saak geopen.
In nog ‘n ongeluk op die R513 naby Mount Amanzi in Hartbeespoort, is ‘n vrou dood in ‘n botsing met ‘n bakkie en ‘n sleepwa. Sy is ook op die toneel dood verklaar deur paramedici van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS).
Die polisie ondersoek ‘n strafbare mansslag-saak.